Kaapse Forum lê klagte by SAMRK oor professor se verwysing na wit studente as honde

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum beskou professor Jonathan Jansen se verwysing na wit manstudente aan die Universiteit van Stellenbosch (US) as “honde” in ’n rubriek wat hy vir TimesLive geskryf het as ongevraagd, opruiend en beledigend. Kaapse Forum het ’n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ingedien om die saak te ondersoek en op te tree indien hulle ook hierdie kommentaar as onmenslik, haatlik en kwetsend beskou.

Die rubriek wat Jansen geskryf het, was in reaksie op die verslag van die Khampepe-kommissie oor die beweerde rassisme by die US. Jansen het geskryf dat, “just like dogs use urine to mark their territory and anxiety, white male students use the same strategy to protest black incursion into their intimate spaces, such as residences.”

“Die geskiedenis het ons geleer van die gevaar om lede van ’n sekere gemeenskap, etniese of kulturele groep as ’n soort dier of insek te etiketteer, of dit nou die Suid-Afrikaanse Penny Sparrow is wat swart burgers ‘ape’ noem of ’n Rwandese politikus wat na Tutsi’s as ‘kakkerlakke’ verwys wat bygedra het tot die voorkoms van volksmoord in 1994 in sy land,” sê Heindrich Wyngaard, Uitvoerende Voorsitter by die Kaapse Forum. “Hierdie opmerkings van Jansen lewer geen konstruktiewe bydrae om rassistiese optrede uit ons demokratiese samelewing te ontwortel nie, wat in alle gevalle veroordeel behoort te word.”