Kaapse Forum loods nuwe projek by Hoërskool Emil Weder

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het op 13 April ’n nuwe skoolprojek, Wolkskool, by die Hoërskool Emil Weder in Genadendal van stapel gestuur. Kaapse Forum is daarop gefokus dat die jeug gelyke kanse moet hê en het daarom in vennootskap met Wolkskool getree, sodat hulle hul maksimum potensiaal kan bereik soos elke individu se talent en tyd dit toelaat.

“Die jeug is die toekoms, wat is dus beter as om aktief betrokke te raak by die ontwikkeling van jongmense. ’n Belangrike aspek hiervan fokus daarop om gelyke geleenthede eerder as gelyke uitkomstes te bevorder,” sê Bernard Pieters, koördineerder vir Kaapse Forum.

Kaapse Forum ondersteun die beginsel van gelyke geleenthede en werk saam met verskeie groepe om hierdie teorie in die praktyk te kan uitleef. Deur Wolkskool met die tradisionele onderrigmodel te kombineer, het elke onderwyser en leerling toegang tot ’n sogenaamde privaat tutor op hul foon wat konsepte in video’s verduidelik. Die video’s is op  byna alle hoërskoolvakke, sowel as verskeie laerskoolvakke, van toepassing. Wolkskool sal leerlinge by die Hoërskool Emil Weder die geleentheid bied om enige agterstallige werk in te haal. Hierdie video’s kan ook by die skool afgelaai en later by die huis gekyk word indien internettoegang ’n uitdaging is. Video’s van vorige jare se skoolwerk en ou vraestelle met memorandums is net enkele van die hulpbronne wat nou ook vir leerlinge op dié platform beskikbaar is.

Om ’n positiewe toekoms te kweek, moet die jeug toegerus word om op ’n gelyke vlak te kompeteer in ’n wêreld waar jy nie net vir ’n werksgeleentheid met iemand anders in jou dorp kompeteer nie, maar ook met persone oor die hele wêreld heen. Tegnologie het die wêreld ’n kleiner plek gemaak, maar Wolkskool sal aan leerlinge wat aanvanklik nie met ander kon kompeteer nie, ’n gelyke en regverdige kans gee om hul drome te bereik.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.