Kaapse Forum loods Wolkskool by Hoërskool Skurweberg

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het op 30 Mei ’n nuwe projek, die Wolkskool, ’n aanlyn-leerplatform by die Hoërskool Skurweberg in Op-die-Berg geloods. Kaapse Forum fokus op  gelyke kanse vir die jeug en het daarom in ’n vennootskap met Wolkskool getree, sodat dié leerders hul potensiaal kan bereik.

“Die jeug is die toekoms, wat is dan beter as om aktief betrokke te raak by die ontwikkeling van jongmense. ’n Belangrike aspek hiervan fokus daarop om gelyke geleenthede eerder as gelyke uitkomstes te bevorder,” sê Bernard Pieters, verbonde aan Kaapse Forum.

Kaapse Forum ondersteun die beginsel van gelyke geleenthede en werk saam met verskeie groepe om hierdie idee in praktyk toe te pas. Deur die Wolkskool met die tradisionele onderrigmodel te kombineer, het elke onderwyser en leerder toegang tot ’n tipe privaat tutor op hul foon wat konsepte in video’s verduidelik. Hierdie video’s is  byna op alle hoërskool-, sowel as laerskoolvakke, van toepassing. Dié aanlyn-leerplatform sal leerders by die Hoërskool Skurweberg die geleentheid bied om enige agterstallige werk in te haal. Die video’s kan ook by die skool afgelaai en later by die huis gekyk word indien internettoegang ’n uitdaging is. Hulpbronne wat vir leerders beskikbaar is, is onder meer video’s van vorige jare se skoolwerk en ou vraestelle met memorandums.

“Om ’n positiewe toekoms te kweek, moet die jeug toegerus word om op ’n gelyke vlak te kan kompeteer. Deesdae ding ’n mens nie net mee vir ’n werksgeleentheid met iemand anders in jou dorp nie, maar met mense van reg oor die wêreld. Die Wolkskool sal leerders van die Hoërskool Skurweberg ’n gelyke en regverdige kans gee om hul drome te bereik,” sluit Pieters af.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of gaan na www.kaapseforum.co.za om aan te sluit.