Kaapse Forum maak skenking aan Die Eiland Huis vir Gestremdes

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het op 3 Augustus 2023 ’n besoek by Die Eiland Huis vir Gestremdes in St. Helenabaai afgelê en ’n skenking van broodnodige goedere, waaronder handlappies (wet wipes), Vicks en room, gemaak. Hierdie donasie vorm deel van die Kaapse Kampioen-projek.

Tydens die besoek het lede van Kaapse Forum ook kennis gemaak met ’n toegewyde span wat ’n tuiste vir die kinders bied. Suster Maxie Potgieter het aan die Kaapse Forum-lede verduidelik dat hulle die tehuis op so ’n manier bedryf dat dit vir die kinders voel asof hulle deel is van ’n normale huishouding. Die versorging van gestremde kinders kan uitputtend wees, veral as dit gepaardgaan met beperkte hulpbronne. Suster Maxie en haar personeel het ’n baie hegte verhouding met die kinders in hul sorg en dra elke kind se besonderse belange en behoeftes op die hart. Elke kind word met liefde versorg en dit is duidelik sigbaar op elkeen se gesig.

Hazel Smith, wat in Februarie 2023 as Kaapse Kampioen gekroon is, het in samewerking met Die Lighuis Vroue – waarvan sy ’n stigterslid is – versoek dat Kaapse Forum as deel van hulle uitreiking in St. Helenabaai Die Eiland Huis ondersteun.

“Dit is vir ons as Kaapse Forum ’n voorreg om vir Hazel en suster Maxie met die spesiale werk wat hulle doen, te ondersteun,” sê Tommy van Zyl, koördineerder by Kaapse Forum.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.