Kaapse Forum neem standpunt in teen geslagsgebaseerde geweld

Kaapse Forum en ondersteuners van Action Society het vandag buite die streekhof in die Paarl byeengekom om hul misnoeë uit te spreek oor die skending van slagoffers van geslagsgebaseerde geweld se regte.

Siphokazi Booi, van Mbekweni net buite die Paarl, is in September 2021 wreedaardig deur haar kêrel, Sithobel Qebe – oftewel Rasta – vermoor. Hy het haar liggaam opgesny, in ’n vullisdrom gegooi en daarna in ’n verlate veld aan die brand gesteek.  Qebe het haar kort voor die moord so erg aangerand dat Siphokazi in die hospitaal op geëindig het. Qebe was op parool ten tyde van die moord op Siphokazi. 

Qebe het vandag weer in die hof verskyn en sy saak is weer uitgestel. Geregtigheid geskied nie vir Siphokazi en haar familie nie. Dit laat veral ’n bitter smaak in die mond aangesien Bheki Cele, minister van Polisie, die nuutste misdaadstatistiek vandag bekendgestel het waar dit duidelik is dat geweld teen vroue steeds styg. 

“Kaapse Forum staan vandag op teen die polisie en die regsdienste en eis dat hulle daadwerklik begin optree en ophou om hul plig te versuim. Ons as burgers van Suid-Afrika, verdien dat daar aan ons basiese reg tot lewe sonder vrees vir geweld voldoen word en dat ons in ’n land kan woon waar misdadigers vir hul dade boet,” sê Tommy van Zyl, verbonde aan die Kaapse Forum.

“Volgens die minister se jongste syfers word daar meer as 80 mense per dag in Suid-Afrika vermoor. Bykans elke twee uur word ’n vrou vermoor, 11 vroue per dag. In die laaste drie maande is 245 kinders vermoor. Hierdie statistieke is veral betreurenswaardig as ons onthou dat al hierdie goed gebeur terwyl ministers deur tot soveel as agt polisievoertuie begelei word op hul amptelike ekskursies. Dit is tyd dat die SAPD hul sokkies optrek en misdaad in die kiem smoor,” sluit Van Zyl af.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.