Kaapse Forum oorhandig veiligheidstoerusting aan Op-die-berg-gemeenskap

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het op 11 November ’n opvolg werkswinkel met ’n nuwe netwerk vennoot gehad om toekomstige samewerking in veral gemeenskapsveiligheid te bespreek. Dit het gepaardgegaan met die oorhandiging van veiligheidstoerusting en die besoek aan ’n plaaslike, maar verlate polisiestasie in Op-die-berg.

Kaapse Forum en die groep, Educatio het saam met gemeenskapsleiers die verlate polisiestasie van Op-die-berg besoek. Die Kaapse Forum onderneem om verder ondersoek in te stel om uit te vind waarom polisiedienste in hierdie landbougemeenskap opgeskort is. As interim-maatreël het die Kaapse Forum onderneem om saam met AfriForum se gemeenskapsveiligheid opleiding aan die plaaslike buurtwag te bied. Die Kaapse Forum het ook veiligheidstoerusting aan die Op-die-berg-buurtwag as die eerste stap oorhandig.

“Ons is baie opgewonde oor die moontlikhede wat hier bestaan om opleiding aan die plaaslike gemeenskapsveiligheidstrukture te verskaf,” sê Tommy van Zyl, koördineerder vir die Kaapse Forum.

“Samewerking en skakeling tussen gemeenskappe, veral die deel van inligting met betrekking tot  veiligheid is ’n baie belangrike aspek in gemeenskappe. Die koördineringsvermoë tussen gemeenskappe, veral waar staatsverval reeds plaasgevind het, is tans ’n ononderhandelbare vereiste vir ’n veilige en stabiele samelewing,” sê Bernard Pieters, verbonde aan die Kaapse Forum.

“Hierdie situasie, waar die staat daarin vaal om die basiese beskermingsdienste van die SAPD vir hierdie landbougemeenskap beskikbaar te stel, wys weereens die nood om mag uit ’n kakistokratiese regering se hande te vat en na provinsiale vlak af te wentel. Ons moedig ander gemeenskappe aan om ons te kontak indien daar ’n soortgelyke nood bestaan en die Kaapse Forum as ʼn platform vir gemeenskapselfstandigheid kan dien en om groeiende outonomie ’n praktiese en volhoubare werklikheid te help maak,” sluit Pieters af.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.