KAAPSE FORUM PLAAS DRUK OP WES-KAAPSE REGERING OOR POLISIE-REFERENDUM

Kaapse Forum gaan as ’n burgerlike organisasie voort met ons doelstelling om regsekerheid by wyse van ’n hofaansoek te verkry oor premiers se reg om referendums te hou. Dit sal ’n belangrike stap wees in die geveg om uiteindelik polisiëringsmagte uit die hande van die nasionale regering – en ’n teleurstellende minister van Polisie, Bheki Cele – na die Wes-Kaap afgewentel te kry.

Ons het vandag oor die kwessie met premier Alan Winde en een van sy ministers, Anton Bredell, vergader. Die premier het onderneem om spoedig met sy regspan oorleg te pleeg en amptelike terugvoer oor die kwessie aan ons te verskaf. Ons sal hom hieroor op sy woord hou. Kaapse Forum het dit duidelik gemaak dat ons aanhou glo dat die uitklaring van die reg om provinsiale referendums te hou in die belang van inwoners van die provinsie is. Ons sal ook aanhou om gemeenskappe te mobiliseer vir hul steun om groter outonomie en selfstandigheid vir die Wes-Kaap te bereik.

Dit is bekend dat die provinsiale regering, soos ons, glo dat die provinsie polisiëring beter sal kan hanteer as wat dit vanaf ’n nasionale platform gedoen word. Die provinsie is ook van mening, nes Kaapse Forum, dat die afwenteling van magte met ’n regverdige toedeling van belastingbetalersgeld vir dié funksie gepaard moet gaan.

Die vergadering was vir Kaapse Forum ’n voorbeeld van hoe politieke- en burgerregtegroepe kan saamwerk oor sake van gemeenskaplike belang. Ons sien uit na opvolg-gesprekke met die provinsiale regering oor ander aanknopingspunte waardeur uitdagings in die provinsie die hoof gebied kan word.