Kaapse Forum plant bome in Morningstar

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het op die 24 Mei met ’n inisiatief begin om bome in Morningstar, Durbanville aan te plant.

Dit volg nadat daar besluit is om die area te verfraai. Daar is besluit om 175 Kei-appel (Dovyalis caffra) te plant aangesien dit die geraas van die besige aangrensende pad kan absorbeer en vrugte aan die inwoners kan voorsien. Kaapse Forum streef na ’n holistiese benadering tot gemeenskapsfederalisme daarom dra ’n aksie soos dié by tot ons groter gemeenskapsplan.

“Byna 30 kinders van die Morningstar-gemeenskap het gehelp om bome te plant. Die jeug is die toekoms, daarom is dit goed dat hulle deel is van hierdie aksie. Dis ’n besonderse voorreg om te sien dat die jeug dit so geniet het. Dit kan toegeskryf word aan Lynn Louw, die gemeenskapsleier, en haar rol wat sy onder die jeug speel,” sê Bernard Pieters van die Kaapse Forum.

Plaaslike raadslid, Theresa Uys het toestemming gegee om die bome te plant nadat sy die Kaapse Forum by hierdie inisiatief betrek het. Sy het ook die kompos vir die projek deur die munisipaliteit gereël. Die bome is deur Kaapse Forum in samewerking met Jan Odendaal van Green for Life en die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO) gereël.

“Die sukses van hierdie inisiatief is weereens ’n voorbeeld van verskeie groepe wat saamwerk om die gemeenskap te verbeter. Kaapse Forum se volgende projek sal fokus op onderrig vir leerders van Morningstar. Ons streef na ’n samelewing waar almal dieselfde geleenthede kan geniet,” sluit Pieters af.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za, of sluit by www.kaapseforum.co.za aan.