Kaapse Forum plant lewende monument vir vroulike slagoffers van geweld in Mosselbaai

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het vandeesweek in samewerking met Green for Life, die Mosselbaai Gemeenskapsopkombuis en die Mosselbaai Munisipaliteit 50 inheemse en vrugtebome as ’n lewende monument vir vroulike slagoffers van geslagsgebaseerde geweld by ’n sportterrein in Highway Park, Mosselbaai, aangeplant. ’n Groep vroue, wat self ook slagoffers van geslagsgebaseerde geweld was, het gehelp om dié bome as deel van ’n breër bewusmakingsveldtog oor geweld teen vroue, te plant.

Dié projek is in samewerking met Jan Odendaal van die organisasie Green for Life, ’n vennoot van die Kaapse Forum, van stapel gestuur. William Sam, ’n oudsoldaat en plaaslike gemeenskapsleier wat ’n sopkombuis bestuur en voedsel voorsien aan duisende behoeftige Mosselbaaiers – waarvan nagenoeg 70% hiervan kinders is – het ook aan dié projek deelgeneem.

Volgens Bernard Pieters, bestuurder van gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, het dié organisasie, benewens die fokus op vroulike slagoffers van geweld, ook ’n spesifieke fokus op skole en die verbreking van die armoedesiklus. “Die geheim van die verbreking van die armoedesiklus lê in gehalte-opvoeding, goeie waardes, dissipline en vaardighede wat kinders op skool moet aanleer. Dit bly egter ’n onbetwisbare feit dat hierdie sake nie vir ’n honger kind prioriteit sal wees nie. Daarom vorm voeding ’n sentrale tema in Kaapse Forum se onderwysinisiatiewe,” sê Pieters.

“Dit was verblydend om te sien hoeveel vroue uit die gemeenskap die geleentheid bygewoon het. Dit is ’n bewys van die dringendheid daarvan om kwessies soos geweld en armoede in die gemeenskap te takel. Kaapse Forum sal voortgaan om nie net projekte soos dié aan te pak nie, maar ook sterk standpunt in te neem teen geslagsgebaseerde geweld,” sê Pieters.

Intussen is daar ook ’n skrywe aan die Departement van Korrektiewe Dienste gerig waarin die departement versoek is om weekliks vyf gevangenes beskikbaar te stel om in die tuin waar dié bome aangeplant is, te werk en dit te help versorg.

Raak vandag nog betrokke by Kaapse Forum en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.