Kaapse Forum skenk bome aan Bereaville Morawiese kerk
Kaapse Forum het op 15 Oktober 50 waterpeerbome (Syzygium guineense) aan die Bereaville Morawiese kerk in Genadendal geskenk. Hierdie skenking volg nadat dr Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting, in sy persoonlike hoedanigheid kontak gemaak het deur Kaapse Forum se vergroening vennoot, GreenForLife vir ’n skenking van 50 bome.
“Ons het toe met dr Theo de Jager van Saai kontak gemaak vir advies oor watter boom geplant in daardie biosfeer moet word. Daar is toe besluit op die waterpeerboom, wat in samewerking met die departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake aan die kerk geskenk is,” sê Bernard Pieters, Kaapse Forum se hoof van Gemeenskapsaktivering.
Berea Moraviese Primêr en Berea Educare het gehelp om die bome by die kerk en die begraafplaas te plant.
“Die sukses van hierdie inisiatief is weereens ’n voorbeeld van verskeie groepe wat saamwerk om die gemeenskap te verbeter,” sê Aldo Carelse, projekte-assistent vir Kaapse Forum.
Raak vandag nog betrokke by Kaapse Forum en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.



		