Kaapse Forum sluit ooreenkoms wat deur na landbouberoepe open vir Wes-Kaapse leerders

Die Kaapse Forum en die onafhanklike landbou-opleidingsinstelling International Agricultural Academy for Africa (i3A) het pas ’n unieke vennootskap gesluit wat aan bruin leerders aan landbouskole in die Wes-Kaap die geleentheid sal bied om teen ’n versnelde pas ’n loopbaan in landbou te ontsluit. Dié vennootskap sal dit moontlik maak vir leerders om van graad 10 af as deel van i3A se skoleprogram hul landboustudies in uiteenlopende landboudissiplines, waaronder beesvleisproduksie, gewasproduksie, wildbestuur of wingerdbou, af te skop. Leerders sal vanaf 2026 vir dié skoleprogram in aanmerking kan kom.

Leerders wat aan al die program se vereistes voldoen, sal teen die einde van matriek ’n nasionale NQF 4-sertifikaat verwerf. Dié beroepsgerigte kwalifikasie stel leerders in staat om direk ná skool met tweedejaarsstudies vir ’n Nasionale Diploma (NQF5) aan die Wes-Kaap Landbou Akademie (WKLA) of enige ander i3A-kampus te begin.

Die Kaapse Forum en i3A wil op hierdie wyse veral vir minderbevoorregte bruin leerders toegang gee tot bekostigbare, gehalteopleiding om hulle voor te berei op ’n beroep in landbou in Suid-Afrika.

Volgens Bernard Pieters, hoof van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, wil hulle met hierdie vennootskap vir leerders die nodige hulpbronne gee om die siklus van armoede in die bruin gemeenskap te breek. “Ons weet dat daar armoede en swaarkry in ons bruin gemeenskappe is. Juis daarom is een van die Kaapse Forum se belangrikste doelwitte om bruin gemeenskappe te help om selfonderhoudend te word. Die fokus op opleiding vorm ’n kritieke komponent van hierdie doelwit en deur middel van die vennootskap met i3A sal ons jongmense ’n voorsprong kan gee wat hulle ’n reusevoorsprong op hul pad na ’n suksesvolle beroep sal gee.”

Fanie Cronje, direkteur en kampushoof van die WKLA, benadruk dat dié program ’n belangrike maatskaplike bydrae gaan maak. “Ons kernaktiwiteit is landbou-opleiding. Dit is ook ’n belangrike element wat benodig word vir die bereiking van die Kaapse Forum se maatskaplike doelwitte. Die samewerking is daarom ideaal geposisioneer om tot voordeel van die gemeenskap te wees. Ons het hierdie skoleprogram ontwikkel om enersyds erkenning te gee aan die uitstekende onderrig wat reeds in die Wes-Kaapse landbouskole plaasvind en andersyds om op dié sukses voort te bou en nuwe geleenthede vir leerders te skep wat hulle gaan help om ná skool ’n sukses van hul studies te maak,” verduidelik hy.

Die WKLA se satellietkampus open amptelik aanstaande jaar by die Augsburg Landbougimnasium op Clanwilliam. Die kampus sal teen 2026 30 eerstejaarstudente kan akkommodeer.

Die Kaapse Forum sal in Augustus saam met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement besoek aflê by verskeie skole om hierdie inisiatief aan leerders bekend te stel en hulle aan te moedig om dié geleentheid aan te gryp. Meer inligting oor hierdie inisiatief sal binnekort beskikbaar wees. 

“Ons wil graag die Kaapse Forum bedank vir hulle bereidwilligheid om saam met ons te werk om hierdie droom ’n realiteit te maak,” voeg Cronje by.

“Hulle sê dit verg ’n gemeenskap om ’n kind groot te maak. Ons is deel van die gemeenskap wat die kinders van vandag moet voorberei op ’n blink toekoms. Dit is vir ons ’n voorreg om saam met i3A te werk en ons hulpbronne saam te kan voeg om die sukses van hierdie inisiatief te maak,” sluit Pieters af.

Raak vandag nog betrokke by Kaapse Forum en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.

Meer oor i3A

Twee niewinsgewende organisasies, naamlik Umnga Farmers en die Landelike Stigting, staan onder die i3A-sambreel. Umnga Farmers is in Bloemfontein gesetel en bied opleiding aan inwoners van informele nedersettings en leer hulle deur middel van ’n groentetuinprojek om selfonderhoudend te wees. Die Landelike Stigting fokus op sy beurt daarop om deur middel van onderwys en sport (soos sewesrugby en netbal) die lewensomstandighede van agriwerkers in Tulbagh en Elsenburg te verbeter.