Kaapse Forum stel eerste dokumentêr bekend

Kaapse Forum het op 1 Maart die dokumentêr Tussen die duiwel en die diep, blou see in St. Helenbaai aan die Weskus bekendgestel. Tussen die duiwel en die diep, blou see vertel die storie van die vissersgemeenskap se stryd om oorlewing. Mense wat eens op ’n tyd goed gedoen het en vandag niks oor het om van te leef nie, mense wie se kinders nie meer skool toe kan gaan nie, geliefdes wat afgesterf het, en mense wat van al hul waardigheid gestroop word.

Die persone wat in die dokumentêr verskyn, is onderworpe aan politiek, regstellende aksie en jaloesie. Die vissersgemeenskap is afhanklik van die Fishing rights allocation process (Frap) wat deur die staat geïmplementeer word sonder om die werklikheid van gemeenskappe in ag te neem. Hierdie mense is al vir meer as vyf geslagte in die visvangbedryf werksaam en word nou op grond van hul velkleur ontken en aan hul eie lot oorgelaat; hulle is mense wat ’n bestaan moet maak van slegs R6 000 ’n jaar.

Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, het tydens die bekendstelling vertel hoe hulle as kinders langs die see grootgeword het en die see die bekoring gehou het van lewe en toekoms, terwyl dit vandag net ’n diep donkerblou poel water sonder lewe en die bekoring van ’n opwindende toekoms is.

Tussen die duiwel en die diep, blou see is nou op Kaapse Forum se YouTube-blad beskikbaar. Dit sal ook binnekort op AfriForumTV beskikbaar wees.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.