Kaapse Forum vermoed rassisme in aanstelling van nuwe direkteur van Openbare Vervolging

Aldo Carelse (Afrikaans)

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum bevraagteken pres. Cyril Ramaphosa se besluit om nie enige van die kandidate wat op die kortlys vir die pos van nasionale direkteur van Openbare Vervolging in dié pos aan te stel nie.

Hoewel ons nie die vermoëns van adv. Jan Lekgoa (Andy) Mothibi betwyfel nie, vind ons dit vreemd dat hy bó die ses kandidate aangestel is wat op die kortlys was. Dit terwyl hy nooit eens ’n kandidaat was nie. Hoe het die paneel dan besluit dat die ses kandidate bekwaam genoeg was om uit ’n langer lys van 32 vir onderhoude genooi te word?

Dit ontgaan ons ook nie dat daar na afloop van die onderhoudsproses skielik bewerings deur die regsman Barnabas Xulu teen adv. Hermione Cronjé gemaak is. Sy was wyd beskou as ’n voorkeurkandidaat vir die pos.

Hierdie bewerings is nooit deur die paneel getoets nie, maar die tydsberekening daarvan was opvallend rondom dieselfde periode as wat die paneel hul verslag aan pres. Ramaphosa sou oorhandig het.

Kaapse Forum is bekommerd dat ras ’n rol in die uitkoms van die proses gespeel het – spesifiek omdat slegs één paneellid uit die minderheidsgroepe ingesluit is. Die res was swart Afrikane. Boonop was twee van die paneellede verteenwoordigers van organisasies vir swart regslui, albei sterk ideologies-gedrewe, naamlik die Black Lawyers Association en die National Association of Democratic Lawyers.

Gegee ons land se geskiedenis van rassevooroordeel en die ANC-geleide regering se klem op regstelling vir “swart Afrikane in die besonder” glo ons Cronjé is hierdeur gediskwalifiseer. Ons vind dit onaanvaarbaar. Bruin Suid-Afrikaners, asook ander minderheidsgroepe, het in die algemeen ’n bewese rekord van goeie diens aan die land wanneer hulle in kritieke staatsposte aangestel word.

Die president behoort die land in sy vertroue te neem deur die paneel se verslag openbaar te maak sodat ons weet op watter wyse Cronjé en die ander kandidate te kort geskiet het. Hy behoort ook te verduidelik waarom hy adv. Mothibi as geskik vir die pos beskou – sonder dat hy getoets is deur ’n openbare onderhoudproses, soos die onsuksesvolle kandidate.