Kaapse Forum verseker borgskap van 2 000 kuikens en voer vir Skurweberg-skool van Astral Foods
Kaapse Forum het vroeër vandeesmaand die skenking van 2 000 braaikuikens van National Chicks en die voer vir een siklus (van dag een totdat die kuiken geslag word) van Meadow Feeds aan Skurweberg Sekondêre Skool in Ceres gefasiliteer. Dit volg nadat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) die burgerregteorganisasie genader het om met sodanige donasie te help. Hierdie skenking word moontlik gemaak deur Astral Foods, die grootste pluimvee produsent in Suider Afrika, onder leiding van Gary Arnold, die uitvoerende hoof. Die maatskappy spesialiseer in dierevoere, braaikuikengenetika, dagoudkuikens en hoenderverwerking.
National Chicks, ’n afdeling van Astral-bedrywighede, is die veskaffer van meerderwaardige Ross 308 dagoudkuikens en broei-eiers in Suid-Afrika en ander Afrikalande. Meadow Feeds word beskou as die markleier in die Suider-Afrikaanse dierevoerbedryf met die produksie van ’n verskeidenheid gespesialiseerde formules en voer mengsels.
Die doel van hierdie inisiatief is om die skool ruimte te gee om ’n volhoubare inkomste te vestig. Die plan is dat die skool die kuikens sal grootmaak en die opbrengs sal aanwend om in die toekoms self kuikens en voer aan te koop. Op hierdie wyse kan die projek vinniger selfonderhoudend en uiteindelik winsgewend word tot voordeel van die skool, sy gemeenskap en die belastingbetaler. Die projek het tot dusver alle verwagtinge oortref. Ná 10 dae sedert die skenking van die kuikens op 3 Maart, is geen sterftes onder die kuikens aangeteken nie. Die eerste sewe dae word as ’n hoë risiko beskou. Dr Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, het hierdie projek as briljant beskryf.
“Astral Foods erken sy sosiale en korporatiewe verantwoordelikheid binne die landbousektor waarin dit funksioneer. Dit was vir ons ’n voorreg om saam met die plaaslike regering, die WKOD en die burgerregteorganisasie Kaapse Forum te werk. Danksy Astral, National Chicks en Meadow Feeds se betrokkenheid is ’n skool met die vestiging van ’n braaikuikenprojek ondersteun. Hierdie inisiatief het ten doel om addisionele landbouvaardighede by die skool te ontwikkel, entrepreneuriese denke te stimuleer en skole in staat te stel om mettertyd groter finansiële selfstandigheid te bereik. Dit kan op sy beurt bydra tot die verligting van druk op die staatskas en dus ook op belastingbetalers,” sê Arnold.
Volgens dr Mariëtte Wheeler, die WKOD se kurrikulumbeplanner vir landbou- en mariene wetenskappe, is die braaikuikenprojek meer as net ’n landbou-leergeleentheid: dit is ’n belegging in werk, vaardighede en groei. “Deur ons leerders werklike, praktiese ervaring in hoenderproduksie te gee, rus ons hulle toe met praktiese bevoegdhede wat deure oopmaak na toekomstige indiensneming en entrepreneurskap. Dit is vaardighede wat nie net uit ’n handboek geleer kan word nie. Ons is diep dankbaar teenoor National Chicks en Meadow Feeds, as afdelings van Astral Foods, en Kaapse Forum vir die ondersteuning van hierdie projek en die hulp om geleenthede vir ons jeug te bou,” sê Wheeler.
“Dit gons (en piep!) behoorlik by Skurweberg Sekondêre Skool. Ons Landbou-departement het ’n reusehupstoot gekry met die ontvangs van 2 000 kuikens. Vir ons landboubestuur-leerders beteken hierdie projek baie meer as net om die kuikens te voer en water te gee. Dit is die versterking van ons kurrikulum in aksie. Hierdie leerders kry nou die unieke kans om die volle siklus van pluimveeboerdery eerstehands te bestuur: van biosekuriteit en groei-monitering tot die finale markgereedheid,” sê Ivan Fredericks, Skurweberg Sekondêre Skool se adjunkhoof en departementshoof vir Landbou.
“Hierdie droom het ’n werklikheid geword danksy die ongelooflike ondersteuning van Kaapse Forum, National Chicks en Meadow Feeds. Julle bydra is ’n belegging in die toekoms van Suid-Afrika se landbou. Hierdie projek versterk die brug tussen teorie en praktyk wat sal help om ons leerders se toekoms te voer. Dankie dat julle help om ons leerders te bemagtig en hul drome te verwesenlik,” sluit Fredericks af.
Hierdie projek sluit direk aan by Kaapse Forum se onderwysplan, wat daarop gemik is om omgewings te skep waar skole meer selfstandig en volhoubaar kan funksioneer. Terselfdertyd bied dit aan leerders waardevolle, praktiese blootstelling aan die landboubedryf sowel as die beginsels van entrepreneurskap, finansiële bestuur en projek beplanning.
Bernard Pieters, hoof van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, bedank die WKOD vir hul vertroue in die organisasie om samewerking. Hy bedank ook vir Eloff vir sy bereidwilligheid om die skenking met die direksie van Astral Foods te fasiliteer en goed te keur.
“Hierdie tipe vennootskappe wys wat moontlik is wanneer die privaat sektor, die regeringsdepartemente en burgerlike organisasies saamwerk om volhoubare oplossings vir ons skole te skep,” sê Pieters.
Kaapse Forum sien daarna uit om saam met sy netwerkskool, Skurweberg Sekondêre Skool en die WKOD te werk om van hierdie projek ’n sukses te maak sodat dit as voorbeeld dien van hoe gemeenskappe deur samewerking versterk kan word.
“Behalwe vir hierdie projek het Kaapse Forum ook ander landbouprojekte met die Nederlandse saadmaatskappy, Rijk Zwaan, ook in samewerking met die WKOD. Met nog vennootskappe in die pyplyn is ons geseënd in die vertroue wat hierdie maatskappye en die provinsiale regering in ons plaas. Een oplossing kan nie orals gedupliseer word nie en diverse vennootskappe en oplossings is nodig om oor tyd ’n sinvolle, meetbare en volhoubare verskil op voetsoolvak te maak,” sluit Pieters af.








