Kaapse Forum verseker meer as 500 000 minderhede van werk

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum verwelkom die Departement van Indiensneming en Arbeid se aankondiging dat die nuwe wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming en die nuwe rasregulasies nie meer op 1 September in werking gestel gaan word nie. Dít volg nadat Kaapse Forum op 6 Junie saam met 30 ander organisasies standpunt ingeneem het teen die regering se nuwe neo-apartheid-rassewetgewing.

“Vir ons van spesifieke belang is die impak op die bruin gemeenskap, maar meer spesifiek in die Wes-Kaap. Alhoewel die data wys dat daar teoreties meer bruin werkers in die Wes-Kaap moet wees, is dit oëverblindery,” sê Heindrich Wyngaard, voorsitter van Kaapse Forum.

Die afgelope paar weke het Suid-Afrika onder meer gebuk gegaan onder taxi-geweld, vrese vir hoër rentekoerse en ’n toename in kos- en brandstofpryse. Maar min was egter so ekonomies terminaal van aard soos die regering se nuwe drakoniese rasseregulasies wat op 1 September in werking sou tree. Meer as 500 000 minderhede sou na verwagting hul werk verloor. Hierdie verlies aan belastingbetalers wat boonop op staatshulp sou moes staatmaak, sou ook die mense van Suid-Afrika verarm het deur toegang tot hul kundigheid te verloor.

“Ons het tans werkskepping nodig en nie ’n halfmiljoen mense wat uit die ekonomie gedwing word gebaseer op hul ras en geslag nie,” sê Bernard Pieters van Kaapse Forum. “Die regering probeer tans minderhede gebruik as verskoning vir hul tekortkominge en probleme in die land. Kaapse Forum sal nie toelaat dat minderhede as politieke slaansakke in hul geboorteland gebruik word nie,” sluit Pieters af.

Hoewel die eerste rondte teen die regering gewen is, moet die momentum nie nou verlore gaan nie. Kaapse Forum moedig die publiek aan om sy petisie teen hierdie tipe wetgewing te ondersteun en hulle stem by die duisende ander te voeg wat reeds kapsie gemaak het teen hierdie rasgebaseerde-wetgewing.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za  of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.

Klik hier om die verslag af te laai wat vroeër vanjaar vrygestel is.