Kinnear-sluipmoord: Polisie dryf slinkse toesmeerveldtog

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se opsetlike versuim om op te tree volgens die aanbevelings van die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) se verslag rakende die sluipmoord op lt.kol. Charl Kinnear, dui op ’n slinkse toesmeerveldtog wat vanuit die hart van die SAPD gedryf word. Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum hou vol dat Kinnear se sluipmoord getuig van ernstige dieperliggende misdadigheid in die polisie.

Kaapse Forum het AfriForum se privaatvervolgingseenheid verlede Vrydag opdrag gegee om dié toenmalige hoof van die ondersoekafdeling van die SAPD se teenbende-eenheid se moord namens sy weduwee, Nicolette, te ondersoek. Die hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, adv. Gerrie Nel, het intussen vroeër vandeesweek (Donderdag 5 Oktober) ’n brief aan die minister van Polisie, Bheki Cele, die nasionale polisiekommissaris, genl. Fannie Masemola, en Opod se uitvoerende direkteur, Jennifer Ntlatseng, gestuur waarin ontbloot word hoe die polisie sowel as die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) skandalig misluk het daarin om individue wie se optrede die tragiese sluipmoord op Kinnear moontlik gemaak het, aan die pen te laat ry. Nel wys daarop dat die polisie nie net niks gedoen het om Kinnear se moord te voorkom nie, maar dat daar die afgelope drie jaar ook absoluut niks gedoen is om polisielede verantwoordbaar te hou vir sy moord nie.

Hoewel die voorlopige Opod-verslag, wat sedert dit oorspronklik in 2021 aan die media uitgelek het en sedertdien onder twyfelagtige omstandighede geklassifiseer is, duidelike aanbevelings maak ten opsigte van die kriminele vervolging van polisielede wat by Kinnear se moord betrek is, het niks daarvan gekom nie. Dit ten spyte van die feit dat Ntlatseng in Oktober 2022 verklaar het dat die verslag sekere senior polisielede impliseer.

Kaapse Forum eis nou, by monde van adv. Nel, dat Cele dringend antwoorde ten opsigte van die polisie se dissiplinêre aksie teen die geïdentifiseerde polisielede moet gee. Voorts eis Kaapse Forum ook terugvoer rakende die vordering van die klag van strafbare manslag wat Kinnear se weduwee aanhangig gemaak het teen polisielede wat verantwoordelik was vir die onsinnige onttrekking van haar man se beskerming kort voor sy dood.

“Kinnear se sluipmoord was ’n bittere tragiese gebeurtenis, maar die feit dat die polisie nie net anderpad kyk nie, maar duidelik alle pogings aanwend om aandadigheid hieraan toe te smeer, is skokkend. Dit beklemtoon dat misdadigheid die SAPD nou tot op die hoogste vlak binnegedring het en die verrotting van ’n instelling in sy geheel tot gevolg het. Dit is betreurenswaardig dat ’n weduwee en gesin moet aanvaar dat polisiebestuur onverskillig staan teenoor ’n man wat sy lewe opgeoffer het vir ’n ideaal wat nou deur die einste instelling vertrap en vernietig word,” verduidelik Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum.

Die organisasie het intussen ook Masemola se stelling by ’n mediakonferensie Dinsdag, waarin hy aanvoer dat ’n verdere ondersoekverslag na die moord op Kinnear opgestel gaan word, ten sterkste verwerp en dit bestempel as ’n onverskoonbare poging om die oorspronklike Opod-bevindinge en -aanbevelings toe te smeer.