Media-uitnodiging: Kaapse Forum hou protesaksie by parlement oor afwenteling van polisiemagte
Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum hou komende Dinsdag (11 Augustus 2026) tussen 10:00 en 11:00 ’n plakkaatdemonstrasie by die parlement in Kaapstad om aan te dring op meer polisiemagte vir die Wes-Kaap.
Lede van die media word hiermee genooi om dekking aan die geleentheid te gee. Navrae kan gerig word aan Elizma Arendse by 066 473 4431.
Die protesaksie is daarop gemik om druk op die Nasionale Vergadering se Portefeuljekomitee oor Binnelandse Sake te plaas wat op dié dag moet beraadslaag oor die voorgestelde wysigingswetsontwerp op die Verkiesingskommissie. Dié wetsontwerp maak voorsiening vir provinsiale referendums – ’n kwessie waaroor Kaapse Forum die Konstitusionele Hof genader het.
Die hof het in 2024 beslis dat Kaapse Forum die parlement “redelike tyd” moet bied om die proses af te handel, anders kan die organisasie na die hof terugkeer.
Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, sê die organisasie glo die inwoners van die Wes-Kaap moet seggenskap kry in die debat oor die afwenteling van polisiemagte.
“Ongelukkig word die debat deur politieke partye se kopstampery oorheers, terwyl inwoners steeds gebuk gaan onder die gewetenloosheid van misdadigers, moordenaars, verkragters en bendes,” sê hy. “Ons dryf juis die kwessie van provinsiale referendums sodat die inwoners se mening oor die afwenteling van polisiemagte eerste getoets kan word.”
Kaapse Forum het gemeenskapslede en verteenwoordigers van politieke partye aangemoedig om ook aan die protesaksie deel te neem.


