Media-uitnodiging: Kaapse Forum-protesaksie môre by parlement oor afwenteling van polisiemagte
Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum hou môre (Dinsdag 11 Augustus 2026) ’n protesaksie by die parlement in Kaapstad om aan te dring op die afwenteling van polisiemagte in die Wes-Kaap.
“Ons kan nie langer toekyk hoedat gemeenskappe omstanders, toeskouers en slagoffers is in ’n oorlogsituasie waarin 30 mense oor ’n naweek en tot 170 binne twee weke afgemaai word nie,” sê Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum. “Gemeenskappe moet hulself laat geld in dié magstryd tussen ’n onbeholpe polisiediens, opportunistiese politici en uitgeslape misdaadbase.”
Die protesaksie is daarop gemik om druk op die Nasionale Vergadering se Portefeuljekomitee oor Binnelandse Sake te plaas wat môre beraadslaag oor die voorgestelde wysigingswetsontwerp op die Verkiesingskommissie. Dié wetsontwerp maak voorsiening vir provinsiale referendums.
Kaapse Forum het die Konstitusionele Hof in 2024 genader en geëis dat die wysigingswetsontwerp op die Verkiesingskommissie dringend en in ooreenstemming met die Grondwet in werking gestel moet word. Dié wysiging sal verseker dat inwoners van provinsies se steun – by wyse van referendums – getoets kan word oor sake wat hulle raak.
Die hof het beslis dat die parlement “redelike tyd” gebied moet word om die proses af te handel, anders kan die organisasie na die hof terugkeer.
Wyngaard sê die organisasie glo dat die inwoners van die Wes-Kaap seggenskap moet kry in die debat oor die afwenteling van polisiemagte.
“Ongelukkig word die debat deur politieke partye se kopstampery oorheers, terwyl inwoners steeds gebuk gaan onder die gewetenloosheid van misdadigers, moordenaars, verkragters en bendes,” sê hy. “Ons dryf juis die kwessie van provinsiale referendums sodat die inwoners se mening oor die afwenteling van polisiemagte eerste getoets kan word.”
Die media word uitgenooi om Kaapse Forum se protesaksie by te woon.
Die besonderhede is soos volg:
Datum: Dinsdag 11 Augustus 2026
Tyd: 10:00 tot 11:00
Navrae: Kontak Elizma Arendse (066 473 4431) vir meer inligting.


