Morningstar-Samaritaan is Januarie se Kaapse Kampioen

Lynn Louw, wat haar passie vir kinders by die Morningstar-biblioteek uitleef, is op 6 Maart tydens ’n gemeenskapsvergadering by dié plaaslike biblioteek as Kaapse Forum se Kaapse Kampioen vir Januarie gekroon.  Louw dryf ’n onbaatsugtige gemeenskapsprojek wat na die onderrig en welstand van die kinders in Morningstar in Durbanville omsien.

Elke weeksdag ontvang Louw ongeveer 50 kinders van die groter Morningstar-gemeenskap by die biblioteek wat daar kom studeer en verdere onderrig ontvang. Sy maak van verskeie hulpmiddels gebruik om die kinders met onder meer kunsprojekte en lewensvaardighede te help. Louw verskaf ook die nodige emosionele en geestelike ondersteuning aan kinders wat deur trauma gaan.

Die kinders se leesvaardighede is vir haar baie belangrik daarom is die biblioteek, wat die munisipaliteit gratis aan haar beskikbaar stel, ’n groot aanwins vir die Morningstar-gemeenskap. Volgens Louw moet elke kind ’n geleentheid kry om bo sy of haar omstandighede uit te styg en dat dit haar passie is om die kinders te help om ’n verandering in die wêreld te bring. Sy glo ook om ’n verskil in die wêreld te maak, moet jy by jou onmiddellike omgewing begin en ander inspireer om ’n veerkragtige denkwyse aan te neem.

Alderman Theresa Uys, wat die aand saam met raadslid Joseph Witbooi bygewoon het, gee ook baie ondersteuning aan hierdie projek. Uys glo Louw sal nog baie behaal met haar goeie werksetiek en haar omgee-gesindheid vir die inwoners van Morningstar.

Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, het tydens die vergadering ’n boodskap van hoop gelewer en gesê dat jou verlede nie jou toekoms bepaal of beperk nie.

Kaapse Forum wens Louw baie geluk en alle sterkte toe met haar projek en toekomstige projekte wat sy in samewerking met Kaapse Forum gaan aanpak.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.

  • Sien foto aangeheg.