Nog ’n braaihoenderprojek om Kaapse skool te versterk

Kaapse Forum het op 4 Augustus die skenking van 1 400 braaikuikens en voer aan Hoërskool Pelican Park in Kaapstad behartig. Hierdie braaikuikens bied aan die skool die ruimte om ’n volhoubare inkomste te genereer, terwyl leerders praktiese landbou-opleiding ontvang.

Bernard Pieters, hoof van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, sê al hierdie kuikens gaan deur leerders van die skool grootgemaak en verkoop word. Die opbrengs gaan op sy beurt aangewend word om in die toekoms nog kuikens en voer aan te koop en die siklus van voor af te begin. Op hierdie wyse kan die projek vinnig selfonderhoudend en uiteindelik winsgewend word tot voordeel van die skool, sy gemeenskap en die belastingbetaler.

Kaapse Forum het vroeër vanjaar vir die eerste keer dié braaihoenderprojek in die Wes-Kaap afgeskop toe die organisasie 2 000 braaikuikens aan Skurweberg Sekondêre Skool geskenk het. Die skool het sowat 1 950 kuikens tot volwassenheid grootgemaak en ’n netto wins van meer as R50 000 aangeteken.

Nes met dié projek, het Kaapse Forum en National Chicks die braaikuiens aan Hoërskool Pelican Park geskenk, terwyl Meadow Feeds die voer teen kosprys beskikbaar gestel het. Dié projek volg nadat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) Kaapse Forum genader het om met sodanige donasie te help. Astral Foods, die grootste pluimveeprodusent in Suider-Afrika en National Chicks se moedermaatskappy, het onder leiding van sy uitvoerende hoof, Gary Arnold, dié skenking moontlik gemaak.

National Chicks is die verskaffer van prima Ross 308-dagoudkuikens en broei-eiers aan boerderye plaaslik en elders in Afrika. Meadow Feeds word, as vervaardiger van verskeie gespesialiseerde formules en voermengsels, op sy beurt beskou as die markleier in die Suider-Afrikaanse voerbedryf.

Só sê die betrokkenes

  • Gary Arnold, uitvoerende hoof van Astral Foods: “Astral Foods erken sy maatskaplike en korporatiewe verantwoordelikheid binne die landbousektor waarin dit funksioneer. Dit was vir ons ’n voorreg om saam met die plaaslike regering, die WKOD en die burgerregteorganisasie Kaapse Forum te werk. Danksy Astral, National Chicks en Meadow Feeds se betrokkenheid is ’n skool met die vestiging van ’n braaikuikenprojek ondersteun. Hierdie inisiatief het ten doel om addisionele landbouvaardighede by die skool te ontwikkel, entrepreneuriese denke te stimuleer en skole in staat te stel om mettertyd groter finansiële selfstandigheid te bereik. Dit kan op sy beurt bydra tot die verligting van druk op die staatskas en dus ook op belastingbetalers.”
  • Dr. Mariëtte Wheeler, WKOD-kurrikulumbeplanner vir landbou- en mariene wetenskappe: “Die braaikuikenprojek is meer as net ’n landbou-leergeleentheid – dit is ’n belegging in werk, vaardighede en groei. Deur ons leerders werklike, praktiese ervaring in hoenderproduksie te gee, rus ons hulle toe met praktiese bevoegdhede wat deure oopmaak na toekomstige indiensneming en entrepreneurskap. Dit is vaardighede wat nie net uit ’n handboek geleer kan word nie. Ons is diep dankbaar vir National Chicks en Meadow Feeds, as afdelings van Astral Foods, en Kaapse Forum vir die ondersteuning van hierdie projek en die hulp om geleenthede vir ons jeug te bou.”
  • Shariefa Clark, skoolhoof van Hoërskool Pelican Park: “Ons betuig ons opregte waardering teenoor Astral, National Chicks, Meadow Feeds en die Universiteit Stellenbosch se alumnigemeenskap vir hulle waardevolle vennootskap en onwrikbare verbintenis tot onderwys, vaardigheidsontwikkeling, voedselsekerheid en jeugbemagtiging.
  • “Van die aflewering van die dagoudkuikens tot die voorbereiding en ingebruikneming van ons braaikuikeneenheid het elke fase van hierdie projek professionaliteit, uitnemendheid en opregte omgee weerspieël. Die omvattende opleidingsessies, wat deur die entoesiastiese span van National Chicks by die braaikuikeneenheid aangebied is, het ons opvoeders en leerders toegerus met die selfvertroue, tegniese kennis en praktiese vaardighede wat nodig is om ’n suksesvolle braaikuikenproduksiestelsel te bestuur. Hul bereidwilligheid om hul kundigheid te deel en ons geduldig deur elke stap te begelei, het die leerervaring boeiend én bemagtigend gemaak.
  • “’n Spesiale bedanking aan Bernard (Kaapse Forum) wie se inspirerende gees, aanmoediging en onwrikbare toewyding deurgaans ’n dryfkrag op hierdie reis was. Sy mentorskap was van onskatbare waarde en het ons voortdurend aangemoedig om verder as die projek self te kyk en die potensiaal daarvan raak te sien om lewens deur landbou-onderrig en entrepreneurskap te verander. Sy passie vir die ontwikkeling van mense en die vestiging van volhoubare landbouprogramme het ons skoolgemeenskap geïnspireer en gehelp om die grondslag te lê vir wat ons glo die begin van ’n florerende onderneming by Hoërskool Pelican Park gaan wees.”

Hierdie projek sluit direk aan by Kaapse Forum se onderwysplan, wat daarop gemik is om ruimtes te skep waar skole meer selfstandig en volhoubaar kan funksioneer. Terselfdertyd bied dit aan leerders waardevolle, praktiese blootstelling aan die landboubedryf sowel as die beginsels van entrepreneurskap, finansiële bestuur en projek beplanning.

“Behalwe vir hierdie projek is Kaapse Forum ook besig met ander landbouprojekte saam met die Nederlandse saadmaatskappy, Rijk Zwaan, en die WKOD. Een oplossing kan nie oral gedupliseer word nie en diverse vennootskappe en oplossings is nodig om oor tyd ’n sinvolle, meetbare en volhoubare verskil op voetsoolvak te maak,” sluit Pieters af.