Nóg ’n Kaapse Kampioen kraai koning vir sy protea-passie

Die 47-jarige protea- en erikakenner en hooftoesighouer van die Harold Porter Botaniese Tuin se kwekery- en tuinspan, Ebraime Hull, is gister (25 Oktober 2023) as Kaapse Forum se agtste Kaapse Kampioen aangewys. Dié erkenning word op ’n maandelikse basis gegee aan Kapenaars wat ’n daadwerklike verskil in ander se lewens maak.

Kaapse Forum het Hull by die Harold Porter Botaniese Tuin in Bettysbaai besoek om hier, in sy spreekwoordelike agtertuin, die toekenning aan hom te oorhandig. Hull, ’n gebore Kleinmonder, werk al nagenoeg 22 jaar by die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI), eers by Kirstenbosch in Kaapstad en nou by Harold Porter. Hy is veral gemoeid met die insameling van spesifieke plantspesies vir bewaringsdoeleindes. Volgens Hull word dit onder meer gedoen om kennis oor die groei van dié plante in te samel, om die publiek bewus te maak van die gebied se uitsonderlike plantverskeidenheid en om die gemeenskap oor die bewaring daarvan in te lig.

Sy spesialiteit en voorliefde is egter veral die protea- en erikaspesies. Hierdie kundigheid deel hy graag en doen moeite om sy kollegas én studente touwys te maak oor die suksesvolle kweking van dié geliefde plantspesies. Hy doen moeite daarmee sodat mense proteas en erikas in hul tuine in die Kogelberg-biosfeer kan inkorporeer, verduidelik dié Kaapse Kampioen. Hy het ook nagenoeg vier jaar gelede, saam met ’n groep vriende, ’n ekologiese klub in Kleinmond begin. Die doel van dié klub is om die belangrikheid van omgewingsbewaring onder die jeug te bevorder.

Dit is juis hierdie merkwaardige bydraes wat hy tot die opbou en ondersteuning van sy plaaslike gemeenskap maak, wat van Hull die ideale kandidaat gemaak het om as vandeesmaand se Kaapse Kampioen aangewys te word. Hull was voorheen ’n hoofbakker by ’n plaaslike 7-Eleven-winkel en later ’n grafsteen-graveur. Sy bewondering vir die natuur het egter reeds as kind kop uitgesteek toe hy blootgestel is aan bewaringsaktiwiteite en die belang van die natuur.

“Sy storie is werklik opbouend en skep hoop dat jy self vir jou ’n beter toekoms kan skep deur jou passie na te streef,” sê Tommy van Zyl, ’n koördineerder van Kaapse Forum. “Sy toewyding vir leer en navorsing is aansteeklik. Sy kennis van plante en die kweek daarvan is beslis indrukwekkend – soveel so dat Kirstenbosch ’n dokumentêr oor Hull se verhaal uitgereik het,” sluit van Zyl af.

Volgens Hull is die toekenning onverwags, maar dien ook as ’n aansporing vir ander om te weet dat dit wat ’n mens met ’n positiewe ingesteldheid aanpak, beloon sal word. “Ek is baie passievol oor bewaring en wil graag die belangrikheid daarvan deel,” verduidelik Hull.