Ramaphosa se toelae-bangmaakstorie “laakbaar”, sê burgerregteorganisasie

Die laaste ding wat arm mense en die land se miljoene werkloses kan bekostig is dat hulle deur pres. Cyril Ramaphosa mislei word oor maatskaplike toelaes wat kwansuis sal verdwyn as die ANC mag verloor. Om op dié wyse verkiesingsteun te probeer werf, is laakbaar.

Dít is die mening van die burgerregteorganisasie Kaapse Forum by monde van sy uitvoerende voorsitter, Heindrich Wyngaard. Ramaphosa het dié omstrede uitspraak gemaak toe hy begin vandeesweek in Mpumalanga by ’n ANC-verjaardagsaamtrek gepraat het.

Wyngaard sê: “Die president smokkel ter wille met die koppe van begunstigdes en hul afhanklikes oor ’n staatsintervensie wat hul lewe moet verbeter, terwyl sy regerende party eerder behoort te fokus op die bevordering van gunstiger omstandighede vir werkskepping.”

Die nuutste statistieke dui daarop dat werkloosheid in die algemeen konstant bo 30% bly en dat die syfer vir werklose jeugdiges tussen 14 en 35 jaar selfs hoër is op meer as 40%.

“Ramaphosa en die regering skyn nie veel gepla te wees hieroor nie; dit is kompleet asof hulle die armes en werklose Suid-Afrikaners in ’n toestand van permanente afhanklikheid van toelae wil hou,” sê Wyngaard.

Kaapse Forum meen die ANC het voldoende geleentheid gehad oor die afgelope dertig jaar om ’n wesenlike verskil te maak wat ekonomiese groei betref, maar dat staatsinmenging vir dié party vooropgestel is in wat veronderstel is om ’n vryemarkstelsel te wees.

Wyngaard sê die organisasie moedig daarom stemgeregtigdes aan om vir die 2024-verkiesing te registreer en om op stemdag hul kruisies te gaan trek. “Ons sal almal aandadig wees daaraan as ons gaan toelaat dat die agteruitgang in ons land net maar voortduur,” sê hy.

Hy sê ook: “Maar Kaapse Forum doen ’n beroep op kiesers om in die algemeen fyn te luister na die beloftes en bangmaakstories van álle partye wat om hul steun vir die komende verkiesing meeding.”