Saru moet self bewerings van skeidsregter-omkopery ondersoek – nié Boland Rugby nie, eis Kaapse Forum
Kaapse Forum doen ’n beroep op die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) om self die bewerings van skeidsregter-omkopery in die Boland te ondersoek. Die organisasie sal ook regshulp bied aan persone wat oor inligting beskik rakende voorvalle waar skeidsregters omgekoop is om ten gunste van ’n spesifieke span te blaas, asook aan diegene wat bang is hulle word geviktimiseer of geïntimideer as hulle met inligting na vore kom.
Kaapse Forum het hierdie versoek Maandagoggend in ’n brief aan Mark Alexander, president van Saru, gerig. Dit volg ná mediaberigte die afgelope naweek oor bewerings van wedstrydknoeiery by Boland Rugby en dat sommige skeidsregters omkoopgeld ontvang om sekere spanne te laat wen.
“Kaapse Forum glo nie dat die Boland Rugbyunie geskik is om self ondersoek na die bewerings in te stel nie, aangesien die unie ’n geruime tyd reeds daarvan bewus is. Daar is egter eers gewag totdat ’n fluitjieblaser ’n amptelike klag ingedien het,” sê Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum.
Hy sê verder dat dit alombekend in die Boland is dat Bennie van Rooi, president van Boland Rugby, persoonlike verhoudings met sommige klubvoorsitters het. Wyngaard beskou hierdie verhoudings as onbehoorlik.
Luidens berigte word Linston Manuels, bestuurder van Boland se skeidsregters, by die bewerings betrek. “Jy kan nie ’n beskuldigde wees en self ook die magistraat nie,” sê Wyngaard oor Boland Rugby se besluit dat sy eie dissiplinêre komitee ’n ondersoek na die bewerings doen.
Wyngaard sê voorts dat indien die bewerings waar is, dit op ’n groter probeer as slegs ’n “dissiplinêre kwaal” by Boland Rugby dui. Die unie se hele bestuurstyl- en kultuur, korporatiewe bestuurstelsels en etiese waardes mag dalk daardeur in twyfel getrek word.
“Waarom dit Kaapse Forum bekommer, is omdat rugby dikwels die enigste voertuig is waardeur jong mense van die Boland uit hul ellendige sosio-ekonomiese omstandighede gelig kan word. Ons sien die resultate in die samestelling van provinsiale spanne tot op die hoogste vlak, maar dit begin by die meer as 200 klubs van die Boland,” sê Wyngaard.
Kaapse Forum is die afgelope drie jaar van sy bestaan ten nouste betrokke by gemeenskappe in die Boland om onder meer te help met die sentrale rol wat rugby speel in die bou van selftrots en die opheffing van families. “Ons het daarom by geleentheid onder meer die unie met ’n borgskap vir sy laer ligas ondersteun en was ook as donateur by ’n paar klubs van die Groot Uitdaag-kompetisie betrokke,” sê Wyngaard.
In die brief aan Alexander, skryf Wyngaard: “Boland-seuns en -dogters maak beslis hul merk regoor die spektrum. ’n Mens wil daarom hê dat rugby in die Boland te alle tye gesond moet wees en goed bestuur word. Enige gebeurtenis wat ’n vraagteken hieroor laat hang, is kommerwekkend, soos die beriggewing oor wedstrydknoeiery.”
Kaapse Forum glo dat enige bedenkinge oor die ondersoek na die bewerings handelsmerk-skade aan rugby in die algemeen – spesifiek in die Boland maar ook aan die Saru-handelsmerk – kan aanrig. Met die Top 12-rugbytoernooi om die draai, kan Boland Rugby juis nie nou bekostig om ’n verlies aan integriteit te ly nie.
Indien die bewerings van omkopery waar is, kan omgekrapte toeskouers skeidsregters se veiligheid in gevaar stel, terwyl dit ook nadelig kan reflekteer op die Top 12 se hoofborge én die Boland Rugbyunie se ekwiteitsvennote.