SITA-hoof se bedanking laat gevaarligte flikker oor nóg probleme by agentskap

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum meen die bedanking van dr. Bongani Mabaso, uitvoerende hoof van die staat se inligtingstegnologieagentskap (SITA), laat gevaarligte flikker oor die toenemende probleme by dié agentskap. Mabaso se vervroegde beëindiging van sy vyfjaarkontrak volg skaars ag maande nadat hy in April vanjaar by die agentskap aangesluit het en nagenoeg ’n week nadat Kaapse Forum formele navrae oor bewerings van ongerymdhede rakende tenderprosesse hier aan SITA gerig het. 

Kaapse Forum het verlede week ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by SITA ingedien nadat inligting oor beweerde ongerymdhede met ’n tenderproses ontvang is. Dié ongerymdhede het volgens Kaapse Forum ’n direkte invloed op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se dienslewering in die Wes-Kaap.

Kaapse Forum het vroeër verskeie klagtes van SAPD-lede ontvang wat aanvoer dat hulle deur middel van WhatsApp-boodskappe en plekaanwysers vir bystand moet vra. Polisielede moet ook reeds meer as 13 jaar lank met verouderde radiokommunikasietoerusting klaarkom. ’n SITA-tender waaroor daar nou ernstige bewerings van ongerymdhede bestaan, sal egter hierdie probleme kan uitklaar.

Bernard Pieters, bestuurder van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, voer aan dat die druk op SITA en die bewerings van korrupsie en wanbestuur hier, waarskynlik bygedra het tot Mabaso se besluit om te bedank. “SITA se toekoms is in die weegskaal en tyd sal leer of Mabaso se bedanking ’n positiewe gebeurtenis is en of dit ’n voorloper van verdere verval by hierdie instelling is. Een saak staan egter soos ’n paal bo water – SITA is in ’n bestuurskrisis en die verval berokken Suid-Afrikaners geweldige skade. Dringende ingryping in die belang van Suid-Afrika is nou noodsaaklik,” sluit Pieters af.

Kaapse Forum beywer hom vir die afwenteling van nasionale mag na dié van provinsies. Raak vandag nog betrokke by dié organisasie. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.