St. Helenabaai-inwoner bekroon as Kaapse Kampioen vir Februarie

Hazel Smith van St. Helenabaai is op 1 Maart tydens die bekendstelling van die dokumentêr Tussen die duiwel en die diep blou see as Februarie se Kaapse Kampioen gekroon. Hierdie dokumentêr handel oor die visserman se oorlewingstryd.

Die Kaapse Kampioen is ’n inisiatief van Kaapse Forum om individue wat ’n daadwerklike verskil in hul gemeenskap maak, te  beloon.

Smith is een van die stigterslede van Die Lighuis Vroue in St. Helenabaai wat einde 2021 aansoek gedoen het vir visvangregte maar is sonder rede deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye afgekeur. Nietemin het sy en haar groepie vroue voortgegaan om ’n verskil in behoeftige mense en diegene wat swaarkry se lewens te maak in St. Helenabaai.

Mense wat ten spyte van hul moeilike omstandighede na ander mense in die gemeenskap uitreik en hulle help, stel ’n voorbeeld vir soveel ander. Hierdie mense het gewoonlik ’n veerkragtige gemoed en weier om te gaan lê, al word hulle self aan trauma blootgestel. Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, het die volgende in sy toespraak gesê: Al het jy net twee vissies en vyf broodjies, met die min wat jy het, kan jy ’n volk voed. “En dit is wat ons by tannie Hazel sien; ’n persoon wat self ook al verskeie kere in die lewe platgeslaan is, maar wat bly opstaan en ’n verskil in haar gemeenskap maak.”

Smith ontvang ’n kontantprys van Kaapse Forum wat aangewend sal word vir verdere aksies in die gemeenskap. Sy ontvang ook ’n trofee en haar naam word permanent verewig op ’n skild wat in Kaapse Forum-kantoor bly ter herinnering aan die mense wat ’n verskil gemaak het.   

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.