Stokou polisietoerusting: Kaapse Forum eis antwoorde by SITA

Moontlikheid van ongerymdhede in tenderproses moet nou ondersoek word

Terwyl die Wes-Kaap in ’n ernstige wurggreep van misdaad vasgevang is, moet lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in dié provinsie sien kom klaar met karige tegnologie uit die oue doos of met persoonlike WhatsApp-boodskappe. Dít meen die burgerregteorganisasie Kaapse Forum is weens die staat se inligtingstegnologieagentskap (SITA) se laksheid en beweerde ongerymdhede in ’n tenderproses. Kaapse Forum eis daarom nou antwoorde by SITA oor die tekort aan onderhoud van infrastruktuur en opgraderings aan die SAPD se radionetwerk.

Dit volg nadat dit vroeër vanjaar bekend geword het dat die SAPD reeds meer as 13 jaar lank met verouderde radiokommunikasietoerusting moet klaarkom. Kaapse Forum het intussen verskeie klagtes van SAPD-lede ontvang wat aanvoer dat hulle deur middel van WhatsApp-boodskappe en plekaanwysers vir bystand moet vra.

“Misdaad is een van die grootste struikelblokke vir ekonomiese vooruitgang in Suid-Afrika. Dit is veral betreurenswaardig dat SAPD-lede daagliks hul lewens op die spel plaas en nie eens toegerus word met die nodige hulpbronne om misdaad te beveg nie,” sê Bernard Pieters, bestuurder van gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum.

Kaapse Forum het reeds vroeg in September ’n skrywe oor die verouderde tegnologie gerig aan Molatlhegi Kgauwe, SITA se waarnemende besturende direkteur. “Nie Kgauwe óf sy kantoor het Kaapse Forum se navraag beantwoord nie,” verduidelik Pieters.

Kaapse Forum het egter wel kommerwekkende inligting van ’n betroubare bron ontvang. Volgens dié bron kom dit voor asof daar moontlik ongerymdhede in die tenderproses vir die SAPD se TETRA-radiostelsel was. Die aansoekproses vir dié tender is in September 2022 begin.

“Gebaseer op die inligting wat ons ontvang het, is besluit om ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by SITA in te dien,” sê Pieters. “Kaapse Forum eis nou antwoorde oor onder meer die huidige status van die tender, enige vertragings wat moontlik ten opsigte van die tenderproses bestaan sowel as ’n lys van tenders wat ontvang is. Hierdie inligting sal duidelikheid bied oor die gerugte van ongerymdhede wat moontlik bydra tot die kommunikasiekrisis waarmee polisielede in die Wes-Kaap nou te kampe het. Dit blyk boonop asof die SAPD se topbestuur verval het in ’n kakistokrasie met ’n totale gebrek aan bevoegdheid en ’n algehele onbereidwilligheid polisielede te beskerm,” sluit Pieters af.

Kaapse Forum beywer hom vir die afwenteling van nasionale mag na dié van provinsies. Raak vandag nog betrokke by dié organisasie. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.