Suid-Afrika verenig in stryd téén ANC se skoolkapingswetsontwerp

Politieke partye sowel as burgerlike organisasies oor die hele Suid-Afrika heen is, soos Kaapse Forum, verenig in hul heftige teenstand teen die diep kommerwekkende Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wetsontwerp) wat gister deur die Nasionale Vergadering (NV) aanvaar is. Hierdie drakoniese stuk wetgewing verteenwoordig ’n duidelike aanval op grondwetlike regte en demokratiese vryhede van elke Suid-Afrikaner. ’n Groeiende sentiment vir groter outonomie in die Kaap is besig om pos te vat en die regering se planne vir die implementering van hierdie wetsontwerp vuur net hierdie sentiment aan.

Volgens Bernard Pieters, hoof van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, is daar uit uiteenlopende gemeenskappe weerstand teen die implementering van die BELA-wetsontwerp. Hoewel Kaapse Forum op Christelike waardes berus, verwelkom die organisasie ook lede uit ander gelowe wat saamstaan téén BELA.

“BELA is besig om Suid-Afrika te verenig téén die regering in ’n tyd waarin twyfel bestaan oor of die regerende party weer ’n meerderheidstem in die komende verkiesing op hom sal verenig,” meen Pieters. “In tye van onderdrukking vind diverse gemeenskappe dikwels krag en veerkragtigheid in eenheid. Ondanks ons verskil in agtergrond, kultuur of oortuigings, kom mense van verskillende groepe bymekaar omdat BELA gesien word as ’n stryd wat gemeenskaplik gepak moet word. Hierdie eenheid kweek ’n gevoel van solidariteit en bemagtig ons om ons gesamentlike stem teen onreg te verhef. Deur wedersydse erkenning, ondersteuning en gesamentlike optrede kan diverse gemeenskappe hul eise vir gelykheid, geregtigheid en menseregte versterk. Hierdie eenheid dien as ’n kragtige mag waarmee onderdrukkende stelsels en wetgewing, soos die beoogde BELA-wet, uitgedaag sal word.”

Kaapse Forum voer aan dat die samehorigheid téén die BELA-wetsontwerp wat onder diverse gemeenskappe vorm, wys op gemeenskappe se gedeelde strewe na vryheid, menswaardigheid en ’n regverdige samelewing. “Dis ook hierdie feit wat die Kaapse Forum die selfvertroue gee om tot in die hoogste hof saam te veg téén BELA,” meen Pieters.

Hoewel die NV se aanvaarding van die wetsontwerp volgens Pieters ’n slag was, dien dit ook as ’n geleentheid vir gemeenskappe om saam te staan. “Gister se gebeure is wel ’n laagtepunt vir ons demokrasie, maar dit bied ook ’n saadjie van hoop dat gemeenskappe, soos met die stryd teen BELA, sal saamstaan teen uitdagings wat die regering nie kan of wil oplos nie. Ons sal dus self werk aan oplossings, maar ons sal nie dit alleen hoef te doen nie.”

Raak vandag nog betrokke by Kaapse Forum en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.