Visvangregte weereens vertraag

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het op 1 Februarie verneem dat die ANC, spesifiek die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake, die toekenning van visvangregte weereens na Oktober uitgestel het. Wanneer hierdie regte toegeken word, sal dit vir 15 jaar geldig wees.

Die minister, Barbara Creecy, het op 31 Januarie vanjaar dié aankondiging gemaak. Om hierdie proses weereens uit te stel is onaanvaarbaar omdat dít reeds soveel keer uitgestel, vertraag en van voor af begin is. Verskeie vissers het reeds tou opgegooi en sommige het alles verloor. Die Kaapse Forum is in kontak met verskeie vissersgemeenskappe wie se kinders nie meer verder kan studeer nie en hul studies, weens ’n tekort aan fondse, moes opskop. As gevolg van dié vertraging kan dié kinders nou ook nie in hul familieondernemings werk nie, wat tot die verarming van hele gesinne en gemeenskappe lei.

“In ’n tyd wat die ekonomie krimp en rentekoerse styg wat weer die styging van voedselpryse tot gevolg het, word Suid-Afrika se kleinskaalse sowel as kommersiële vissers doelbewus deur die minister uit die ekonomie gesny. Hierdie beleid is onaanvaarbaar,” sê Tommy van Zyl, koördineerder vir die Kaapse Forum.

Creecy het genoem dat hulle ’n rekordaantal klagtes en appèlaansoeke ontvang het. Tog word daar nêrens vermeld dat die aanlyn stelsel vir maande lank foutief was nie. Redes soos dié wat die vertraging van die toekenning van visvangregte tot gevolg het, word nie genoem nie.

Die Kaapse Forum sal sy veldtog teen die regering voortsit en is reeds besig om vir die eerste hofsaak gereed te maak wat eersdaags in die Hooggeregshof in Pretoria aangehoor sal word.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za, of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.