Vonnisoplegging in Joshlin Smith-saak moet fokus ook op dwelmmiddel tik plaas, sê Kaapse Forum

Klankgreep: Heindrich Wyngaard (Afrikaans)
Klankgreep: Heindrich Wyngaard (Engels)

Kaapse Forum doen ’n beroep op die media en ander rolspelers om met môre (29 Mei) se vonnisoplegging van die skuldiges in die Joshlin Smith-saak óók die fokus te plaas op die sentrale rol van die dwelmmiddel tik in die gebeure wat tot die sesjarige Joshlin se verdwyning in Februarie 2024 gelei het.

Die organisasie, wat gemeenskapsontwikkeling op veral die Wes-Kaapse platteland doen, gaan môre by die hof in Saldanha deur middel van ‘n plakkaatbetoging die onwettige handel in tik in die kollig plaas.

“Ons het reg aan die begin van die verhoor en deurentyd gehoor hoedat Joshlin se ma, Kelly, en haar medebeskuldiges almal tikgebruikers is en hoedat hulle ook op die dag van haar verdwyning die dwelmmiddel gerook het,” sê Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum. “Maar dit is ’n element wat onderbeklemtoon is in hul uiteindelike skuldigbevinding aan die ontvoering en mensehandel van ’n minderjarige dogtertjie. Ook die publiek se reaksie was meestal gemik teen Kelly as ’n ma wat haar kind sou verkoop het. Dit was duidelik dat die geld wat sy daarvoor sou ontvang, gebruik sou word om haar dwelmverslawing te onderhou en nie om vir haar kinders beter omstandighede te ‘koop’ nie.”

Kaapse Forum is uiters beïndruk met die regverdige, gebalanseerde en kalm wyse waarop regter Nathan Erasmus die saak hanteer het.

Anders as die regter, wat slegs ’n saak kan beoordeel op grond van die getuienis wat aan die hof voorgehou word, het Kaapse Forum as ’n gemeenskapsorganisasie egter ’n eie plig om ook na die dieperliggende oorsake van gebeure soos die verdwyning van Joshlin Smith te kyk.

Dit is waarom Kaapse Forum glo dat hierdie saak ’n geleentheid is om die fokus op die vernietigende effek van dwelmhandel op bepaald bruin gemeenskappe te plaas.

Oproepe dat ’n kommissie van ondersoek na bendegeweld ingestel moet word, behoort volgens Kaapse Forum eerder aangepas te word na ’n kommissie van ondersoek na die dwelmbedryf omdat dit die grondoorsaak van bendegeweld is.