Wes-Kaapse SAPD-vermoëns word beperk deur gebrek aan behoorlike toerusting

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum neem met kommer kennis van die feit dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Wes-Kaap reeds vir meer as 13 jaar sonder die nodige radiokommunikasietoerusting moet klaarkom. Die organisasie eis antwoorde vanaf die regering se inligtingstegnologieagentskap (SITA) oor die tekort aan infrastruktuur-onderhoud en opgraderings aan die SAPD se radionetwerk.

Kaapse Forum het reeds klagtes van SAPD-lede ontvang dat hulle deur middel van WhatsApp-boodskappe en plekaanwysers moet vra vir bystand. “Misdaad is en bly een van die grootste struikelblokke vir ekonomiese vooruitgang in Suid-Afrika. Dit is veral betreurenswaardig dat SAPD-lede daagliks hul lewens op die spel plaas en nie eers toegerus word met die nodige hulpbronne om misdaad te beveg nie,” sê Bernard Pieters, verbonde aan Kaapse Forum.

“Ons het ’n brief gerig aan Molatlhegi Kgauwe, die waarnemende besturende direkteur van SITA oor hierdie kwessie. Ons sal die saak voorts fyn dophou en nie skroom om regstappe te doen indien daar nie hieraan aandag gegee word nie,” sluit Pieters af.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.