Nuwe vakplakkate aan Hoërskool Vanrhynsdorp maak leer lekker
Kaapse Forum het op 21 Mei verskeie vakplakkate in Afrikaans aan die Hoërskool Vanrhynsdorp oorhandig wat Altus Smit, die skoolhoof, in ontvangs geneem het. Die plakkate is van toepassing op die vakke Afrikaans, lewenswetenskappe, natuurwetenskappe, rekeningkunde, wiskunde en wiskunde geletterdheid.
“Ons bedank ons vennoot, die Afrikaanse Onderwys Netwerk (AON) en Afrikaanse Taalraad, wat ons in hierdie projek ondersteun. Samewerking is die kern van enige volhoubare projek. Só kan ons saam ons skole in Afrikaans verfraai en versterk,” sê Bernard Pieters, hoof van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum.
Volgens Pieters sal hierdie skenking bydra tot Kaapse Forum se bestaande projekte by hul netwerk van skole. “Ons steun sterk op skenkings en evalueer projekte noukeurig voordat ons betrokke raak. Dit is ook vir ons belangrik om individue en organisasies wat reeds goeie werk doen te versterk met ondersteuning en hulpbronne. Dit is nie ons alleen wat ’n verskil in gemeenskappe maak nie,” sê hy.
Die AON-mandaat is om leemtes te identifiseer, strategiese dienste te voorsien en vennootskappe te vestig. Die AON se vennote sluit in Fedsas, die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), die Skole-Ondersteuningsentrum (SOS), die ATKV, Afrikaans.com, die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), Woorde Open Wêrelde (WOW), Vriende van Afrikaans, die Afrikaanse Taalraad, Die MOS Inisiatief en tersiêre instellings soos Akademia en die Noordwes-Universiteit (NWU).
“Ons ondersteun Afrikaanse skole in samewerking met vennote om ’n verskil te maak en Afrikaanse leerders ’n kompeterende voorsprong te gee,” sê Daan Potgieter, uitvoerende hoof van die AON.
Kaapse Forum het verskeie projekte wat daarop gemik is om skole te ondersteun. Die organisasie bied onder meer skole veiligheidsoudits sodat skole bewus kan wees van die risiko’s wat hulle spesifiek in die gesig staar.


