Van kuiken tot kos: Suksesvolle braaihoenderprojek ’n eerste vir Wes-Kaapse skole

Skurweberg Sekondêre Skool het onlangs vir homself ’n plek in die geskiedenisboeke losgeboer met die suksesvolle afhandeling van sy eerste braaihoenderprojek en die eerste projek van sy soort in die Wes-Kaap.

Die volgroeide hoenders by Skurweberg Sekondêre Skool

Van die 2 000 braaikuikens wat Kaapse Forum twee maande gelede aan dié skool in Ceres geskenk het, is uiteindelik sowat 1 950 volwasse hoenders uitgeslag. Hiermee is ’n merkwaardige sukseskoers van 97,5% bereik en het die projek – ondanks die uitdagings om die hoenders een vir een te verkoop – ’n netto wins van meer as R50 000 aangeteken.

Kaapse Forum en landbou-leiers span kragte saam

Kaapse Forum en National Chicks het die braaikuiens vir die projek geskenk, terwyl Meadow Feeds die voer vir een siklus (van dag een totdat die kuiken geslag word) beskikbaar gestel het. Dié projek volg nadat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) Kaapse Forum genader het om met sodanige donasie te help. Astral Foods, die grootste pluimveeprodusent in Suider-Afrika en National Chicks se moedermaatskappy, het onder leiding van sy uitvoerende hoof, Gary Arnold, dié skenking moontlik gemaak.

National Chicks is die verskaffer van prima Ross 308-dagoudkuikens en broei-eiers aan boerderye plaaslik en elders in Afrika. Meadow Feeds word, as vervaardiger van verskeie gespesialiseerde formules en voermengsels, op sy beurt beskou as die markleier in die Suider-Afrikaanse voerbedryf.

Die plan

Leerders van Skurweberg Sekondêre Skool stel ondersoek in na die kuikens wat as deel van die braaikuikenprojek aan die skool geskenk is.

Die braaihoenderprojek bied aan Skurweberg Sekondêre Skool die ruimte om ’n volhoubare inkomste te genereer, terwyl leerders praktiese landbou-opleiding ontvang. Die sakemodel behels kortliks dat die skool die eerste siklus se kuikens moes grootmaak en dan die opbrengs vir die befondsing van verdere siklusse aanwend.

Ná die suksesvolle afhandeling van die eerste siklus, sien alle betrokke rolspelers nou uit na die verdere fase in die vestiging van dié volhoubare inisiatief om selfonderhoudend en uiteindelik winsgewend te word tot voordeel van die skool, sy gemeenskap en die belastingbetaler.

Die uitdagings én oplossings

Dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, het hierdie projek as briljant beskryf.

Tog het dié nuwe projek sy eie groeipyne ondervind.

Hoewel daar aanvanklik staatgemaak sou word op privaat agente om al die hoenders aan die einde van die groeisiklus te koop, het dié plan deur die mat geval. Dit het tot gevolg gehad dat die skool noodgedwonge die hoenders vir ’n bykomende twee weke aan die lewe moes hou totdat elkeen individueel verkoop kon word. Die vertraging in verkope het die projek se operasionele kostes, weens die verdere vraag na voer, noodgedwonge opgejaag.

Dié uitdagings was egter ’n goeie leerskool en planne vir verbeterde bemarking word reeds in die vooruitsig gestel om voorafverkope te verseker en sodoende onnodige addisionele kostes te vermy.

Só sê die rolspelers

  • Gary Arnold, uitvoerende hoof van Astral Foods: “Astral Foods erken sy maatskaplike en korporatiewe verantwoordelikheid binne die landbousektor waarin dit funksioneer. Dit was vir ons ’n voorreg om saam met die plaaslike regering, die WKOD en die burgerregteorganisasie Kaapse Forum te werk. Danksy Astral, National Chicks en Meadow Feeds se betrokkenheid is ’n skool met die vestiging van ’n braaikuikenprojek ondersteun. Hierdie inisiatief het ten doel om addisionele landbouvaardighede by die skool te ontwikkel, entrepreneuriese denke te stimuleer en skole in staat te stel om mettertyd groter finansiële selfstandigheid te bereik. Dit kan op sy beurt bydra tot die verligting van druk op die staatskas en dus ook op belastingbetalers.”
  • Dr. Mariëtte Wheeler, WKOD-kurrikulumbeplanner vir landbou- en mariene wetenskappe: “Leerders word deur middel van landbouprojekte soos dié met vaardighede opgevoed deur sélf te doen – dit is iets wat nie in handboeke beskikbaar is nie. Dit bou ook hul selfvertroue en die gevoel dat hulle ook vir diere kan sorg. Die glimlagte op die leerders se gesigte het duidelik hierdie gevoel van selfvertroue uitgestraal. Hulle besef ook die waarde daarvan om as ’n span saam te werk met hul klasmaats, onderwysers en die skool se landbouwerkers. Hierdie nuwe vaardighede berei die leerders ook voor vir hul toekomstige werksplekke as deel van ’n groter gemeenskap wat fokus op volhoubaarheid. Hierdie samewerking was ook duidelik onder die span van Kaapse Forum, Astral Foods, National Chicks, Meadow Feeds, Skurweberg Sekondêr se personeel en die WKOD wat deurgaans kontak gehou het met die skool. Ons het in die proses geleer en sien uit na toekomstige projekte.”
  • Ivan Fredericks, adjunkhoof en departementshoof vir Landbou by Skurweberg Sekondêre Skool: “Ons is baie gelukkig met die uitkoms van hierdie projek. Dit was ons eerste poging en het die projek met ’n noemenswaardige wins afgesluit. Ons sien uit daarna om hierdie projek voort te sit en bedank al ons personeel, werkers en leerders wat van hierdie projek ’n sukses gemaak het. Ons neem kennis dat daar baie soortgelyke landbou-inisiatiewe van stapel gestuur word en is trots om te kan wys dat Skurwerberg Sekondêre Skool ook van hierdie hoenderprojek ’n sukses kon maak. Hierdie droom het ’n werklikheid geword danksy die ongelooflike ondersteuning van Kaapse Forum, National Chicks en Meadow Feeds. Julle bydrae is ’n belegging in die toekoms van Suid-Afrika se landbou. Hierdie projek versterk die brug tussen teorie en praktyk wat sal help om ons leerders se toekoms te voer. Dankie dat julle help om ons leerders te bemagtig en hul drome te verwesenlik.”
  • Bernard Pieters, hoof van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum: “Hierdie projek sluit direk aan by Kaapse Forum se holistiese onderwysplan wat daarop gemik is om omgewings te skep waar skole meer selfstandig en volhoubaar kan funksioneer. Terselfdertyd bied dit aan leerders waardevolle praktiese blootstelling aan die landboubedryf sowel as die beginsels van entrepreneurskap, finansiële bestuur en projekbeplanning.

“Ons bedank die WKOD en veral Brent Walters, hoof van Onderwys by die WKOD, vir die vertroue in Kaapse Forum en die geleentheid wat ons gegun is om met skole te kan saam werk. Ons is ook dankbaar vir dr. Theuns Eloff en Gary Arnold se bereidwilligheid om die skenking van Astral Foods te fasiliteer en goed te keur. Hierdie tipe vennootskappe wys wat moontlik is wanneer die privaat sektor, regeringsdepartemente en burgerregteorganisasies saamwerk om volhoubare oplossings vir ons skole te skep. Ons sien daarna uit om saam met ons netwerkskool, Skurweberg Sekondêre Skool, en die WKOD te werk om van hierdie projek ’n nóg groter sukses te maak en glo dat hierdie projek as voorbeeld dien van hoe gemeenskappe deur samewerking versterk kan word.”