PUMA SA-skenking sal groot impak in Kaapse Forum-gemeenskappe maak
Kaapse Forum het op 25 Mei ’n skenking van 40 bokse van onder meer skoolskoene vir laerskoolkinders, volwasse skoene en ’n verskeidenheid sportdrag van PUMA SA ontvang. Hierdie items sal ’n betekenisvolle verskil maak in die lewens van baie families wat ekonomiese uitdagings ervaar. Die organisasie sal die oorhandiging daarvan behartig.
“Ons bedank PUMA SA vir hierdie ruim skenking. Dit sal ’n aansienlike impak hê in Kaapse Forum-gemeenskappe. Skenkings moet verantwoordelik uitgedeel word om uitnemendheid te beloon, wat dan ook die impak daarvan verhoog,” sê Bernard Pieters, hoof van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum.
Kaapse Forum bly verbind tot die versterking van gemeenskappe deur praktiese ondersteuningsinisiatiewe en vennootskappe met organisasies wat dieselfde visie van maatskaplike verantwoordelikheid en gemeenskapsontwikkeling deel.
“PUMA SA het ook in 2024 ’n skenking aan Kaapse Forum oorhandig. Ons (Kaapse Forum) het sportafrigters, onderwysers en maatskaplike werkers daarmee beloon om erkenning te gee aan die werk wat hulle doen. Heelwat lede in die Kaapse Forum-gemeenskap dra en gebruik tot vandag toe trots hierdie PUMA SA-skenking,” sluit Pieters af.
Die organisasie moedig ook ander ondernemings en belanghebbendes aan om PUMA SA se voorbeeld te volg deur inisiatiewe te ondersteun wat hoop en tasbare hulp aan mense in nood bring. Terugvoer en deursigtigheid is vir Kaapse Forum die kern van hierdie projekte om oor tyd heen ’n meetbare impak te kan bewys.


