’n Tweede (bruin) student aan US het gesterf; hierdie keer weens siekte en nie omstrede soos die vorige nie

Klankgreep: Aldo Carelse, projekte-assistent by Kaapse Forum.

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum betoon sy medelye met die familie van ’n tweede student aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat in ’n kort tydperk gesterf het. In die jongste voorval is dit Kelly Rudolph, ’n finalejaar-teologiestudent, wat aan siekte ontkom het. Ons gedagtes is ook by die US-gemeenskap.

Kaapse Forum bly egter bekommerd oor die wyse waarop die US die voorval van Antonio Britto, ’n student in internasionale betrekkinge, gehanteer het. Hy is Saterdagoggend 30 Mei dood op die kampus aangetref. Die universiteit het egter eers dae later, op Donderdag 4 Junie, ’n verklaring oor sy dood uitgereik.

Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van die organisasie, sê: “Die universiteit reageer gewoonlik baie vinnig wanneer ’n student iets oorkom – selfs al is dit nie ’n sterfte nie. Niks is nog gesê oor waarom dit in Antonio se geval so lank geneem het nie.”

Wyngaard sê dit is totaal onaanvaarbaar dat die universiteit eers gereageer het nadat bespiegelinge oor die oorsaak van Antonio se dood op sosiale media versprei is. “Die dood van enige student moet met dieselfde erns gehanteer word sodat die indruk nooit gewek word dat studente uit gemarginaliseerde gemeenskappe anders behandel word nie,” sê hy.

Kaapse Forum wens sowel die familie van Kelly Rudolph as Antonio Britto sterkte toe met hul verlies.