Kaapse Forum bring welkome warmte in ’n koue Jeugmaand
Kaapse Forum het gedurende Jeugmaand (Junie) in samewerking met die Afrikaanse Taalraad (ATR) skoolskoene aan behoeftige leerders aan die Oklahomastraat Primêre Skool en die Hoërskool Zandvliet in Macassar, Somerset-Wes, geskenk. Die ATR en ’n plaaslike verteenwoordiger van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het die oorhandiging bygewoon. Die leerders was oorstelp van vreugde en dankbaarheid met die ontvangs van die skoolskoene.
Die skoolhoofde het namens die leerders en hul ouers hul opregte waardering uitgespreek vir die skenking. Hulle het beklemtoon dat skoolskoene ’n noodsaaklike behoefte is, veral gedurende die koue wintermaande en dat die ondersteuning ’n tasbare verskil in die leerders se daaglikse lewe maak.
“Die skoolskoene word vervaardig uit herwonne PVC-mediese materiaal, soos drupsakkies en suurstofmaskers, wat skoongemaak, verwerk en omskep word in duursame skoolskoene vir behoeftige leerders. Jy kry ook dan geleentheid om skoene aan te koop en op jou eie te versprei.” sê Elizma Arendse, Kaapse Forum se koördineerder vir administrasie en gemeenskapsprojekte.
“Ons glo dat elke kind die geleentheid behoort te hê om met waardigheid en selfvertroue skool by te woon. Hierdie inisiatief vorm deel van die organisasie se voortdurende verbintenis tot gemeenskapsontwikkeling en die ondersteuning van jongmense,” sê Bernard Pieters, Kaapse Forum se hoof van Gemeenskapsaktivering.
’n Besonderse woord van dank gaan aan die adviseur vir Afrikaans kurrikulum van die WKOD se Metropool-Oos-onderwysdistrik vir hul waardevolle ondersteuning met die reëlings van die oorhandiging en teenwoordigheid by die geleentheid.
“Deur praktiese hulp en samewerking tussen burgerregteorganisasies en die staat, bring Kaapse Forum nie net warmte teen die winterkoue nie, maar ook hoop en ondersteuning aan die jeug van ons gemeenskappe. Hierdie bydra het ten doel om enige afname in leerderbywoning tydens die nat wintermaande te voorkom,” sluit Arendse af.




