Kaapse Forum skenk sportklere aan Caledon-rugbyklub

Kaapse Forum het op 27 Julie sportklere, waaronder verskeie sportstewels en tekkies, aan die Caledon-rugbyklub geskenk. Die klub se bestuur, asook die bestuurders en afrigters van die eerste, tweede en derde rugbyspan, het die skenking in ontvangs geneem.

Hierdie oorhandiging vorm deel van Kaapse Forum se gemeenskapsprojekte in die Caledon-omgewing. “Die bevordering van sport en die waardes wat daarmee gepaardgaan, is belangrik in jongmense se vormingsjare. Dit bevorder ook gesonde sportmanskap onder jongmense en bied loopbaangeleenthede,” sê Heindrich Wyngaard, uitvoerende hoof van Kaapse Forum.

Kaapse Forum bedank PUMA Suid-Afrika vir die skenking van hierdie sportklere aan Kaapse Forum. “Samewerking tussen ondernemings en burgerregteorganisasies is belangrik vir ’n groter en blywende impak onder ons gemeenskappe,” sluit Wyngaard af.

Raak vandag nog by Kaapse Forum betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.