’n Einde moet gemaak word aan Khoisan-bespotting, sê Kaapse Forum op Erfenisdag
Klankgreep: Heindrich Wyngaard (Afrikaans)
Klankgreep: Heindrich Wyngaard (Engels)
Die land se Khoi- en San-groepe moet op wyses begin optree wat ’n einde sal bring aan die bespotting wat van hulle gemaak word oor, onder meer, onderlinge struwelinge oor posisies en tradisies. Dit was vanoggend die boodskap van die burgerregteorganisasie Kaapse Forum by die eerste Nasionale Khoi & San-eenheidskongres by die Crystal-ouditorium in die suide van Johannesburg.
Kaapse Forum se voorsitter, Heindrich Wyngaard, het in sy openingsrede gesê: “Ons vind nog té gereeld in ons land en selfs in ons eie midde dat daar gelag word vir ons en wel oor die wyse waarop sommige van ons optree. Ons stry en baklei onder mekaar oor wie die leier of hoofmanne en -vroue moet wees en oor vreemde gebruike wat ingestel of uitgeoefen word.”
Wyngaard sê as die Khoi- en San-groepe ernstig daaroor is om ’n “Inheemse Renaissance” te laat plaasvind, soos die aanbieding van die eenheidskongres veronderstel, moet ’n paar aksies geneem word. “Een daarvan is dat die inheemse gemeenskappe hul eie mediaplatforms moet skep om hul eie meesterverhale en mediaverteenwoordiging te beheer,” sê hy. “Hoe ons uitgebeeld word en hoe daar oor ons en deur ons oor ons gepraat word, is uiters belangrik.”
Hy benadruk egter dat die eerste stap introspeksie moet wees oor die wyses waarop Khoi- en San-verteenwoordigers optree wanneer hulle aandui dat hulle in die belang van hul mense optree. “Eiebelang moet terugtree vir die gemeenskaplike belang.”
Kaapse Forum is verbind tot die wedersydse erkenning van en respek vir alle groepe se geskiedenis, kultuur en tradisies – die land se sogenaamde swart groepe, Afrikaners en mense wat in breë terme as “bruin” geklassifiseer word. “Maar ons glo dat die inheemse mense se stryd om erkenning en die herstel van hul grondregte prioriteit moet geniet omdat Kaapse Forum in ons stigtingsdokument daartoe verbind is om die historiese en hedendaagse vervreemding en marginalisering van bruin groepe teen te werk,” sê Wyngaard.
Kaapse Forum steun egter nie die onteiening van eiendom sonder vergoeding nie. Die organisasie sê die wet diskrimineer nie, al dink baie swart en bruin mense dalk dat die wet slegs Afrikaners of wit mense in die visier het. Wanneer na die breë definisie van eiendom in die wet gekyk word, kom ’n ander beskouing na vore.
Wyngaard het ook gesê inheemse mense se heil lê nie by politieke partye of politieke leiers nie, maar in eenheid. “Ons sterkte is opgesluit in onsself – in saamstaan, in solidariteit en in stem dik maak vir ons inheemse mense, soos wat Kaapse Forum die afgelope drie jaar as ’n stem ten behoewe van bruin gemeenskappe optree.”
Verteenwoordigers uit Gauteng, die Noord-Kaap en Wes-Kaap het die kongres bygewoon.