Kaapse Forum plant 45 bome by Hoërskool Jan van Riebeeck

Kaapse Forum het op 30 September ’n opwindende projek aangepak waartydens 45 bome op die Hoërskool Jan van Riebeeck in die Tuine se gronde aangeplant is. Hierdie projek vorm deel van die departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake se jaarlikse projek om een miljoen bome in September, oftewel Nasionale Boomplantmaand, te plant. Kaapse Forum het hierdie projek in samewerking met Green for Life, AfriForum en Welgemeend, wat op die Hoërskool Jan van Riebeeck se gronde geleë is, aangepak. Die bome, waarvan 25 waterbessiebome en 20 wildepruimbome, is spesifiek by Hoërskool Jan van Riebeeck geplant om die skool se bestaande groen-inisiatiewe te versterk ter voorbereiding vir sy eeufees volgende jaar.

Volgens Bernard Pieters, Hoof van gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, doen die Hoërskool Jan van Riebeeck se skoolhoof, Pieter Rademeyer, sy vrou, Jana, en haar span reeds ongelooflike werk by dié skool. “Ons is opgewonde om koelte en vreugde te skep vir ons leerders in die toekoms,” sê Jana.

Karin Koch, bestuurder by Welgemeend, het almal bedank vir hul bydrae om die dag ’n sukses te maak.

Kaapse Forum fokus op die welstand van skole en leerders deur middel van verskeie projekte. “Die geheim van gehalte-opvoeding, goeie waardes, dissipline en vaardighede wat kinders op skool moet aanleer, lê in die leierskap van ’n skool. Dit is dus vir ons ’n voorreg om ’n skool wat reeds só goed doen, te help om die volgende tree na uitnemendheid te neem,” sê Pieters.

“Dit was verblydend om te sien met watter passie en ywer die kinders deelgeneem het aan die projek. Waar prakties moontlik, sal ons voortgaan om skole in projekte te ondersteun wat tot die vergroening van Suid Afrika sal lei,” sê Jan Odendaal, uitvoerende hoof van Green for Life.

Raak vandag nog betrokke by Kaapse Forum en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.