BELA is oorlog op Kaapse mense

Burgerlike samelewingsorganisasies oor Suid-Afrika heen is – soos Kaapse Forum – verenig in heftige teenstand teen die diep kommerwekkende Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet), wat onlangs deur die regerende party voorgestel en vanoggend (Dinsdag) deur die Nasionale Raad van Provinsies aanvaar is. Hierdie drakoniese stuk wetgewing verteenwoordig ’n opvallende aanval op grondwetlike regte en demokratiese vryhede van elke Suid-Afrikaner. Die direkte effek is die groeiende sentiment vir groter outonomie vir die Kaap.

’n Voorlopige verslag, wat onlangs in die parlement deur die portefeuljekomitee oor basiese onderwys aanvaar is, wys dat 78% van Wes-Kaapse deelnemers die wetsontwerp verwerp. Die wetsontwerp poog om ’n oplossing te skep sonder om enige kernprobleme in die onderwys op te los. Die sentralisering van mag weg van die skoolgemeenskap na politici sal die relatiewe neutraliteit van skoolbesture vervang. Skole sal niks anders as politieke bates wees nie.

“Skoolgemeenskappe, waar ouers waarlik betrokke is en waar ouerbeheerliggame doeltreffend en optimaal funksioneer, sal die swaarste getref word deur die beoogde wet en gemeenskappe ontmagtig. Ons ervaring is dat talle skole in die Wes-Kaap beslis aktiewe gemeenskappe het waar ouers as deel van beheerliggame ’n noodsaaklike rol in die sukses van skole speel, maar BELA sal hierdie suksesse stroop,” beklemtoon Bernard Pieters, hoof van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum.

Die BELA-Wetsontwerp is ’n dun vermomde poging om protes, kritiek teen die regering en oop diskoers op skole te smoor. Deur hierdie wetgewing sal die regering skole en skoolbeheerliggame direk beheer en dus die agendas bepaal. Dit neem weg van die kernbeginsels wat in Suid-Afrika se progressiewe, hard gevegte Grondwet verskans is – insluitend vryheid van uitdrukking, taal, organisering en vele meer.

“Die regering probeer tans om ’n disfunksionele stelsel te herverpak deur verdere mag weg te neem vanaf plaaslike gemeenskappe. Sentralisering het sover geen sukses verhale in die huidige regering nie. Dit sal beter wees om nou die proses te staak en die probleme te identifiseer eerder as om die simptome met radikale ‘oplossings’ te probeer behandel. Dit verteenwoordig ’n ontstellende agteruitgang van menseregte in ’n nasie wat bedoel is om ’n streeksleier en ’n gevierde demokrasie te wees,” sluit Pieters af.

Met hierdie wetgewing, soos met die NGV-wetsontwerp, probeer die regering sy greep op openbare en privaat instellings versterk. Deur hierdie drakoniese wetgewing voor ’n verkiesing deur te dwing, ’n verkiesing wat die ANC waarskynlik gaan verloor, vuur hulle in werklikheid die gees van groter outonomie aan.

Kaapse Forum doen ’n beroep op alle lede van die samelewing, spesifiek lede van die ANC, om hulle leiers tot orde te roep en direk verantwoordelik te hou vir hierdie wetgewing, veral voor ’n verkiesing.

Raak vandag nog betrokke by Kaapse Forum en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.