BELA-ondertekening is “skole-kaping”, sê Kaapse Forum
Kaapse Forum doen ’n beroep op bruin gemeenskappe om nie die dreigende ondertekening van die drakoniese Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (BELA) te beskou as ’n saak wat slegs voormalige model C-skole gaan raak nie. Dit is ’n geveg vir elke skool en elke huishouding in Suid-Afrika en spesifiek Afrikaanssprekende gemeenskappe.
Met die aankondiging deur pres. Cyril Ramaphosa se kantoor dat die omstrede wetsontwerp eerskomende Vrydag deur die president onderteken gaan word, sal Kaapse Forum homself saam met ander organisasies na die hof wend om dié wetgewing stop te sit.
“Ons ervaring tot nou toe is dat baie gemeenskappe dalk ’n traak-my-nie-agtige houding jeens BELA inneem omdat die ANC die indruk geskep het dat dit slegs voormalige model C-skole, oftewel tradisioneel wit skole, is wat daarteen kapsie maak,” sê Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum. “Ons weet egter dit is nie die geval nie, want tradisioneel bruin skole kan ook deur die wetgewing gedwing word om hul Afrikaanse taalbeleid aan te pas om klein getalle nie-Afrikaanssprekende leerders te akkommodeer.”
Bernard Pieters, hoof van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, sê: “Ons sal die Wes-Kaap se stem hard en duidelik laat hoor. Vandag se verklaring is slegs die begin van ’n groter veldtog teen hierdie wetgewing. Die president is duidelik uit voeling met die mense wat hy veronderstel is om as president te verteenwoordig. Hy sal eenvoudig moet hoor hoe dié planne mense op voetsoolvlak gaan benadeel.”
Kaapse Forum is oortuig dat die BELA-wetsontwerp in sy huidige formaat ver tekort skiet en benadruk dat daar reeds oor taal- en kulturele grense heen bewys is dat ’n gemeenskapsgefokusde benadering noodsaaklik is vir betekenisvolle verandering in die onderwyssektor. Die organisasie voer daarom, volgens Pieters, aan dat die volgende elemente van kritieke belang in dié saak is:
- Gemeenskapsoutonomie: Die BELA-wetsontwerp bemagtig nie gemeenskappe in die Wes-Kaap voldoende om groter beheer oor hul onderwysstelsels te neem nie. Sonder ’n gemeenskap se inkoop, sal daar ook geen gemeenskapsbetrokkenheid wees nie. Hierdie is die eerste en belangrikste vereiste in die bestuur van suksesvolle skole.
- Hulpbronverdeling: Ten spyte van die afgelope 30 jaar se aansienlike verwaarlosing van onderwys in die Wes-Kaap, en in Suid-Afrika in die geheel, verskaf die BELA-wetsontwerp nie duidelike meganismes vir billike hulpbronverdeling nie. Dit is noodsaaklik dat hulpbronne regverdig verdeel word om historiese ongelykhede doeltreffend te takel. Plaaslike regering sal ’n direkte rol hierin moet speel aangesien hulle die beste weet hoe om plaaslike uitdagings doeltreffend en volhoubaar die hoof te bied.
- Plaaslike inisiatiewe: Die BELA-wetsontwerp beklemtoon nie die belangrikheid van plaaslike inisiatiewe en selfhelppogings om onderwys te verbeter nie. Kaapse Forum glo in die bevordering van gemeenskapsgebaseerde projekte wat onderwysuitdagings direk op voetsoolvlak die hoof sal bied.
- Menseregte en demokrasie: Werklike onderwyshervorming behoort ’n verdieping van die demokrasie mee te bring deur besluitnemingsmag na die laagste moontlike vlak af te wentel. Die wetsontwerp behoort gewysig te word om aan gemeenskappe meer seggenskap in die vormgewing van die toekoms van onderwys te gee.
- Die onderneming van ’n onderwysveldtog: Hierdie veldtog sal die gemeenskappe en beheerliggame beter inlig oor die slinkse bewoording wat in BELA voorkom en wat daarop gemik is om die skoolgemeenskappe verder te ontmagtig. Hierdie veldtog sal in samewerking met ander organisasies en gemeenskappe gedryf word. Die weerstand teen BELA bring tans alle denkbare groepe in Suid-Afrika saam teen die ANC te staan.
- Sewepunt-onderwysplan: Die Kaapse Forum sal ook in samewerking met sy vennote begin met die uitrol van ’n onderwysplan om skole meer staatsbestand, selfonderhoudend en voorspoedig te maak.
“Kaapse Forum is gereed om BELA in die hof te beveg indien die president sou voortgaan met die besluit om die wetsontwerp te onderteken. Ons het in die verlede dit duidelik gemaak dat ons eerder in die belang van gesonde skoolgemeenskappe ’n samewerkende oplossing wil ondersoek,” sê Pieters. “Die algehele afwenteling van onderwys na provinsiale vlak is nou ’n saak wat dringende prioriteit moet geniet sodat die kastaiings uit die spreekwoordelike ‘onderwysvuur’ gekrap kan word. Gemeenskappe moet bemagtig word sodat daar gewerk kan word aan die vestiging van funksionerende en gesonde gemeenskappe,” meen Pieters.