Borskanker: Selfondersoek kán lewens red, sê Kaapse Forum

Selfondersoeke, vroeë opsporing en doeltreffende behandeling. Dít is volgens Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, die noodsaaklikste stappe in die bevegting van borskanker – dié kanker wat die meeste onder Suid-Afrikaanse vroue gediagnoseer word.

Wyngaard het Sondag (22 Oktober 2023) by die Eikenhof-landgoed, buite Stellenbosch, as  ondersteuner en gasspreker opgetree by The Pink Affair-fondsinsamelingsgeleentheid. Hierdie geleentheid is gehou ten bate van borskankeroorwinnaars en as deel van Borskankerbewustheidsmaand wat jaarliks in Oktober aangebied word. Wyngaard het onder meer persone wat borskanker oorleef het, geprys vir hul moed en positiwiteit. “Dit is belangrik dat elke vrou weet hoe om ’n selfondersoek te doen en wat die daaropvolgende stappe is, sou sy iets opspoor,” het hy benadruk.

Die Suid-Afrikaanse musiekprys- (Sama) en Aitsa-genomineerde sangeres en liedjieskrywer, Jodi Jantjies, sowel as The Voice se Anslin Gysman en die Afrikaanse R&B-sangeres Renay Love Notes was onder die kunstenaars wat gaste by dié pienk okkasie vermaak het. ’n Totaal van R50 000 is tydens die geleentheid vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) ingesamel.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se navorsing toon ook dat meer as 14% van alle kankergevalle wat in 2020 in Suid-Afrika onder mans én vroue aangeteken is, borskankergevalle was. Nagenoeg 27% van alle kankerdiagnoses wat onder Suid-Afrikaanse vroue gemaak word, is boonop borskankergevalle.