COCA COLA GEKAP OOR SY ‘DIS-CHEM’-DISKRIMINASIE TEEN BRUIN MATRIKULANTE

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum veroordeel die diskriminerende kriteria wat deur Coca Cola Beverages SA (CCBSA) toegepas word in die toekenning van beurse aan voornemende studente.

In die maatskappy se advertensie vir sy StudyBuddy-beursskema word dit gestel dat alle matrikulante, wat ingevolge die BBBEE-beleid as swart (“black”) geïdentifiseer word, vir ’n beurs mag aansoek doen. Dit beteken “black African”, bruin en Indiër.

’n Verdere bepaling lui egter dat voorkeur aan “black African” skoolverlaters gegee sal word.

Kaapse Forum, as ‘n drukgroep vir die meerderheid bevolkingsgroep van die Wes-Kaap, beskou bogenoemde bevoordeling as diskriminerend teenoor die bruin gemeenskap – en minderheidsgroepe in die algemeen.

“Onderwys is die een gebied waarop geen diskriminasie toegelaat behoort te word nie omdat elke skoolverlater en afgestudeerde, ongeag ras, toegerus moet word om ‘n bydrae tot die broodnodige groei van ons ekonomie te kan maak,” sê Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum.

Die organisasie gaan ‘n vergadering met CCBSA versoek om daarop aan te dring dat beurse aan diegene wat kwalifiseer op ‘n regverdige wyse toegeken moet word.

“Coke is die een koeldrank wat deur álle gemeenskappe élke dag gekoop word. Dit alleen beteken dat die maatskappy nie enige skoolverlater by sy beurskema moet uitlaat nie,” aldus Wyngaard. “Hulle behoort eerder ‘n samebindende rol in die sukkelende bouproses van ‘n samehorige Suid-Afrikaanse samelewing te vertolk.”

Kaapse Forum moedig die publiek aan om ten sterkste kapsie te maak teen hierdie optrede van CCBSA, soos wat onlangs gedoen is toe die Dis-Chem apteekgroep blatant teen wit werkers gediskrimineer het.