Cornal Hendricks nou ’n Kaapse Kampioen gekroon
Die Springbok- en Bulle-vleuel Cornal Hendricks, wat onlangs by die Bolandse Kavaliers aangesluit het, is gisteraand (Saterdag) met die Kaapse Kampioen-toekenning vereer. Kaapse Forum het die bekende rugbyspeler met hierdie toekenning vereer vir die impak wat hy, en die sport waarvoor hy lief is, op gemeenskappe oor die hele land heen maak.
Hendricks het in 2014 sy debuut vir die Springbokke gemaak en in twaalf toetse uitgedraf nadat hy hom tussen 2011 en 2013 in die Blitsbokke-span gevestig het. ’n Hartkwaal het egter sy internasionale loopbaan kortgeknip, maar in 2018 het die Bulle verras deur hom weer te kontrakteer. Sedertdien het hy “letterlik sy hart uitgespeel,” sê Heindrich Wyngaard, voorsitter van Kaapse Forum.
“Die besluit om Cornal Hendricks ’n Kaapse Kampioen te maak, is geskoei op die inspirasie wat hy bring deur sy verhaal met jongmense te deel in gemeenskappe waar rugby hoop skep. Ons het die toekenning in die lewe geroep om erkenning te gee aan mense wat op voetsoolvlak ’n verskil in gemeenskappe maak en Cornal is sowaar een van daardie mense,” sê Wyngaard.
Die toekenning gaan gepaard met ’n skenking aan The Cornal Hendricks Foundation, wat deur die sportster gebruik gaan word om terug te ploeg in die lewens van jongmense.
Wyngaard sê Kaapse Forum het as ’n burgerlike organisasie, wat gemoeid is met gemeenskapsontwikkeling, rugby geïdentifiseer as ’n sport waardeur groot dele van ’n gemeenskap bereik kan word.
“Dis die hart en siel van sommige plattelandse dorpe, soos Caledon, waar rugby dikwels die enigste wyse is waarop jongmense ’n uitkoms uit armoede kan bewerkstellig. Juis daarom was Kaapse Forum die afgelope seisoen as ’n borg ten nouste betrokke by die Caledon Rugbyklub, wat vanjaar sy dertigste bestaansjaar vier.”
As deel van Hendricks se verbintenis om rugby op plattelandse dorpe te bevorder, het hy ook vanjaar as gasspreker by die Caledon Rugbyklub se jaareindfunksie opgetree.
Dié dorp het onder meer Suid-Afrika se heel eerste bruin Springbok, Errol Tobias, opgelewer. Tobias het in 1980 sy debuut vir die Bokke gemaak en het tot 1984 in die Groen-en-Goud uitgedraf.