Joslin Smith: Kaapse Forum veroordeel oproerigheid by hof

Kaapse Forum veroordeel vandag se gebeure tydens die verskyning van die beskuldigdes in die vermiste Joslin Smith se saak by die Vredenburg-landdroshof ten sterkste. Oproerigheid deur lede van die publiek ten tyde van die verskyning van die beskuldigdes is veroorsaak nadat daarop aangedring is dat ’n politikus binne die hofgebou toegelaat moet word.

Kaapse Forum het die verrigtinge bygewoon omdat dié burgerregteorganisasie saam met die gemeenskap teen borgtog vir die aangeklaagdes gekant is. Meer as 1 500 mense het binne enkele dae dié organisasie se aanlyn petisie onderteken waarin die publiek hul teenkanting teen die toestaan van borg vir die beskuldigdes kan laat hoor.

Die polisie is vanoggend genoodsaak om met skokgranate en traangas op die oproeriges los te brand. Heindrich Wyngaard, voorsitter van Kaapse Forum, was teenwoordig en het ook onder die traangas deurgeloop. Volgens Wyngaard neem die betogers se optrede en die rede waarom hulle oproerig geraak het, die aandag weg van die feit dat die sesjarige slagoffer steeds vermis is.

“Ons wil met ons petisie verseker dat die fokus bly op ’n kind van onse gemeenskap wat verdwyn het en dat ons nog nie antwoorde daarop gevind het nie,” sê Wyngaard.