Kaapse Forum laat Wes-Kaap se stem hard en duidelik hoor in BELA-voorlegging ná geskil oor selektiewe deelname

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het vandag ter elfder ure ook die geleentheid gekry om dié organisasie se voorlegging oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (die sogenaamde BELA-wetsontwerp) aan die Staande Komitee oor Onderwys en Tegnologie, Sport, Kuns en Kultuur te doen. Dit volg nadat Kaapse Forum op 31 Januarie vanjaar sy geskrewe kommentaar oor die wetsontwerp ingedien het en ook versoek het om ’n mondelinge voorlegging aan die komitee te doen. Hoewel die komitee op 6, 7 en 8 Maart geleentheid vir mondelinge voorleggings gebied het, is Kaapse Forum nie uitgenooi om hieraan deel te neem nie.

Dit het die organisasie Maandag genoodsaak om sy prokureurs opdrag te gee om ’n brief hieroor aan die komitee te rig. Die unieke demografie van die gemeenskap wat Kaapse Forum verteenwoordig, is in dié skrywe beklemtoon. Die brief het voorts Kaapse Forum se uitsluiting uit die proses gekap en aangevoer dat dit “kommer wek oor die inklusiwiteit en verteenwoordigendheid van die wetgewende proses, veral in die weerspieëling van die diverse bevolking van die Wes-Kaap”. 

In reaksie op die brief is Kaapse Forum egter Dinsdag ingelig dat die organisasie weens ’n administratiewe fout uitgesluit was. In ’n poging om dié fout te herstel, is Kaapse Forum derhalwe vandag ’n afsonderlike sessie tydens die komitee se sitting gegun vir die voorlegging.

Volgens Bernard Pieters, bestuurder van gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, het die organisasie se oorspronklike uitsluiting uit die proses gevaarligte oor selektiewe deelname – en dus diskriminasie – laat flikker. “Ons kon egter vandag die Wes-Kaap se stem hard en duidelik laat hoor. Vandag se voorlegging was, in teenstelling met die regstegniese aard van ons geskrewe kommentaar, baie meer toegespits op die praktiese implikasies wat die implementering van die voorgestelde wetsontwerp kan inhou. Die komitee moet eenvoudig hoor hoe dié planne mense op voetsoolvlak gaan benadeel,” benadruk Pieters. 

Kaapse Forum hou vol dat die BELA-wetsontwerp in sy huidige formaat ver tekort skiet, en benadruk dat daar reeds oor taal- en kulturele grense heen bewys is dat ’n gemeenskapsgefokusde benadering noodsaaklik is vir betekenisvolle verandering in die onderwyssektor. Die organisasie voer daarom aan dat die volgende elemente van kritieke belang in dié saak is:

  • Gemeenskapsoutonomie: Die BELA-wetsontwerp bemagtig nie gemeenskappe in die Wes-Kaap voldoende om beheer oor hul onderwysstelsels te neem nie. Sonder ’n gemeenskap se inkoop, sal daar ook geen gemeenskapsbetrokkenheid wees nie. Hierdie is die eerste en belangrikste vereiste in die bestuur van suksesvolle skole.
  • Hulpbronverdeling: Ten spyte van die afgelope 30 jaar se aansienlike verwaarlosing van onderwys in die Wes-Kaap, en in Suid-Afrika in die geheel, verskaf die BELA-wetsontwerp nie duidelike meganismes vir billike hulpbronverdeling nie. Dit is noodsaaklik dat hulpbronne regverdig verdeel word om historiese ongelykhede doeltreffend te takel.
  • Plaaslike inisiatiewe: Die BELA-wetsontwerp beklemtoon nie die belangrikheid van plaaslike inisiatiewe en selfhelppogings om onderwys te verbeter nie. Kaapse Forum glo in die bevordering van gemeenskapsgebaseerde projekte wat onderwysuitdagings direk op voetsoolvlak die hoof sal bied.
  • Menseregte en demokrasie: Werklike onderwyshervorming behoort ’n verdieping van die demokrasie mee te bring deur besluitnemingsmag na die laagste moontlike vlak af te wentel. Die wetsontwerp behoort gewysig te word om aan gemeenskappe meer seggenskap in die vormgewing van die toekoms van onderwys te gee.

“Kaapse Forum is gereed om BELA in die hof te beveg indien die wetgewing aanvaar sou word. Ons het dit egter vandag duidelik gemaak dat ons eerder, in die belang van gesonde skoolgemeenskappe, ’n samewerkende oplossing wil ondersoek,” sê Pieters. “Die algehele afwenteling van onderwys na provinsiale vlak is nou ’n saak wat dringende prioriteit moet geniet sodat die kastaiings uit die spreekwoordelike ‘onderwysvuur’ gekrap kan word. Gemeenskappe moet bemagtig word sodat daar gewerk kan word aan die vestiging van funksionerende en gesonde gemeenskappe,” meen Pieters.