Kaapse Forum begin nuwe veiligheidsoudit om skole weerbaar te maak
Kaapse Forum is toenemend bekommerd oor die voorkoms van wanorde en geweld by skole wat die onderrig en veiligheid van leerders ontwrig. Die burgerregteorganisasie het daarom met ’n nuwe veiligheidsoudit begin wat skole bemagtig om proaktief op te tree. Die oudit beoordeel nie net die stand van veiligheid by ’n skool nie, maar stel ook maatreëls voor om die veiligheid van personeel en leerders te verbeter.
“Met die onlangse ontplooiing van die Suid-Afrikaanse weermag in dele van die land, spesifiek in die Kaap, moet gemeenskappe self begin verantwoordelikheid neem vir hul omgewing en gemeenskappe. Kaapse Forum glo dit begin op skoolvlak,” sê Bernard Pieters, hoof van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum.
“Die basiese reg op onderrig en ’n veilige omgewing word tans ondermyn en daar kan nie net onbetrokke toegekyk word terwyl die regering, staatsdepartemente en wetstoepassers die situasie aanspreek nie. Dit is ons plig as burgerlike samelewing om hierdie staatsinstellings, waar prakties moontlik, by te staan of self binne die omvang van die wet verantwoordelikheid te neem vir die veiligheid van ons kinders, skoolpersoneel en infrastruktuur.”
Hierdie oudit fokus op ’n wye reeks van risikogebiede wat skole moet evalueer, insluitend:
- interne stelsels
- infrastruktuur
- kommunikasie na binne, sowel as na buite
- toerusting
- die omgewing om die skool
- brandrisiko’s
- dwelms
- ontvoering
- bendes en ander misdadigheid
’n Veiligheidsoudit stel dus skole in staat om ’n proaktiewe en gestruktureerde benadering te volg om risiko’s vroeg te identifiseer en die hoof te bied voordat voorvalle plaasvind. In plaas daarvan om krisisse te bestuur, word skole bemagtig om daarvoor voor te berei.
“Ons doelwit is om veerkragtige skole te bou wat goed voorbereid is en minder kwesbaar vir ontwrigtings is,” sê Pieters.
Veiligheidsoudits bevorder samewerking tussen skole, ouers, plaaslike gemeenskappe, privaat sekuriteit en wetstoepassingsagentskappe en skep ’n gedeelde verantwoordelikheid om skole te beskerm. Kaapse Forum doen ’n beroep op Kaapse skole se beheerliggame, skoolhoofde, ouers en gemeenskapsrolspelers om veiligheidsoudits as ’n kritieke eerste stap te prioritiseer.
“Die veiligheid van leerders en opvoeders kan nie aan toeval oorgelaat word nie. Proaktiewe beplanning, risikobepaling en gemeenskapsamewerking is die sleutel om te verseker dat skole plekke van leer bly,” sluit Pieters af.
Kontak Kaapse Forum by navrae@kaapseforum.co.za om meer oor dié skoleveiligheidsoudit uit te vind.


