Kaapse Forum betreur TV-man Johnny Davids se dood
Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum is saam met ander Suid-Afrikaners en spesifiek die Afrikaanse media- en vermaakwêreld diep geskok oor die skielike heengaan van die TV-aanbieder en sportkommentator, Johnny Davids.
Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, sê: “Johnny was een van daardie uitsonderlike talentvolle individue wat verskeie rolle op een slag kon uitleef: as mediapersoonlikheid, sanger en ook prediker. Sy heengaan is ’n absolute onverwerkbare slag vir die Afrikaanssprekende gemeenskappe.”
Suid-Afrikaners het die eerste keer van Johnny kennis geneem toe hy en sy sangmaat Vivian in 2003 die gewilde musiekkompetisie Zing! gewen het. Hierdie prestasie vorm deel van sy ongelooflike inspirerende lewensverhaal wat hy onlangs te boek gestaaf het in sy memoir, Boytjie. Dit sluit ook sy uitdagende, ouerlose grootwordjare op die Kaapse Vlakte in.
Wyngaard sê: “Johnny is ’n bewys dat elke bruin kind wat steeds in soortgelyke omstandighede opgroei wel ’n sukses van hul lewe kan maak. Jy doen dit soos wat Johnny dit gedoen het: deur elke geleentheid met albei hande aan te gryp en met ’n hoë mate van professionaliteit uit te voer.”
Kaapse Forum betuig ons meegevoel aan sy vrou, Liezel, en hul twee seuns.


