Kaapse Forum eis dat nuwe parlement erns maak met Referendum-wetgewing

Ten spyte daarvan dat die parlement se vyfjaartermyn amptelik vandag (21 Mei) om middernag tot ’n einde kom, gaan Kaapse Forum nie die stryd vir die behoud van provinsiale referendums gewonne gee nie.

“Dit is omdat ons glo dat verkiesings alleen nie voldoende is om landsburgers se menings oor sake wat hulle raak, te toets nie. Provinsiale referendums kan ’n meer akkurate maatstaf wees oor hoe plaaslike inwoners verkies om regeer te word,” sê Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum.

Kaapse Forum eis dat die nuwe parlement, wat ná die nasionale verkiesing ingestel gaan word, as ’n saak van dringendheid uitvoering moet gee aan ’n vroeëre Konstitusionele Hof-beslissing oor die instelling van wetgewing wat provinsiale referendums moontlik sal maak.

Kaapse Forum het reeds ’n brief van Lechesa Tsenoli, waarnemende speaker van die Nasionale Vergadering, ontvang waarin hy aandui dat die huidige parlement seker sal maak dat die saak onder die nuwe parlement se aandag gebring word. Die huidige parlement het na verneem word nie voldoende tyd gehad om die bespreking van die DA se voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Verkiesingskommissie af te handel nie. Sodra ’n nuwe parlement ná die komende verkiesing ingesweer word, moet die kwessie teruggeplaas word op die wetgewende gesag se besprekingslys.

Die DA-LP wat die wetgewing ingedien het, dr. Annelie Lotriet, het intussen ook tydens ’n ontmoeting met Wyngaard en Kaapse Forum se bedryfshoof, William Waugh, ingestem om Kaapse Forum se voorgestelde aanpassings aan die konsep-wysigings te oorweeg en met haar party se regspan te bespreek.

“Ons gaan nie rus totdat die wetgewing aangepas is om uitvoering te gee aan die grondwetlike voorskrif in artikel 127(2)(f) dat nasionale wetgewing ingestel moet word om premiers te bemagtig om provinsiale referendums te kan hou nie,” sê Wyngaard.

Die Konstitusionele Hof het in ’n bevinding oor Kaapse Forum se aansoek in dié verband gesê omdat die parlementêre proses oor die DA se wetsvoorstel reeds in aanvang is, sal die hof nie in hierdie stadium Kaapse Forum se aansoek oorweeg nie.

“Maar die hof het wel aangedui dat die aansoek onder normale omstandighede oorweeg sou word, met ander woorde as die DA se voorstel nie reeds voor die Nasionale Vergadering gedien het nie,” sê Wyngaard. “Wat verder belangrik is, is dat die hof die parlement beveel het om erns te maak met die proses en dat die hof gesê het as dit nie binne ’n redelike tydperk geskied nie, kan Kaapse Forum die hof weer hieroor nader.”

Wyngaard het ook die steun verwelkom wat Alan Winde, die DA se premierskandidaat vir die Wes-Kaap, uitgespreek vir Kaapse Forum se veldtog vir provinsiale referendums toe hy aan ’n verkiesingsgesprek van die organisasie deelgeneem het. Winde het by die geleentheid beklemtoon dat die DA die wetlike proses oor provinsiale referendums in die parlement dryf.

“Kaapse Forum beskou dit as ’n grondwetlike verpligting om in die lig van die Konstitusionele Hof se bevinding volgehoue druk op die parlement te plaas om te verseker dat die saak nie ligtelik deur die nuwe parlement gehanteer word nie,” sê Wyngaard. “Wanneer die nodige wetgewing uiteindelik ingestel word, sal dit die inwoners van provinsies in staat stel om behoorlik seggenskap te verkry oor kwessies wat hulle ten nouste raak, soos polisiebestuur op plaaslike vlak.”