Kaapse Forum eis die herinstelling van Kinnear-weduwee se polisiebeskerming

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het vandag ’n dringende brief gerig aan die Wes-Kaapse distrikskommissaris, genl.maj. Vincent Beaton, en ’n beroep gedoen op die herinstelling van Nicolette Kinnear, weduwee van die vermoorde lt.kol. Charl Kinnear, se polisiebeskerming. Kaapse Forum voer aan dat die herinstelling van haar en haar gesin se polisiebeskerming, tot minstens na die afhandeling van die hofsake rakende sy moord, uiters noodsaaklik is.

Die onttrekkingsbesluit is gedoen na aanleiding van feitelik foutiewe inligting soos vervat in ’n vertroulike intelligensieverslag. Die inhoud van die verslag is ’n toonbeeld van misleidende en vals intelligensie. Die verslag voer onder meer aan dat lt.kol. Kinnear in 2021 ’n vergadering bygewoon het – dit ten spyte daarvan dat Kinnear reeds in September 2020 oorlede is.

“Ons wil u aandag vestig op die feit dat lt.kol Kinnear sy lewe in die jaar 2020 (18 September) verloor het. Tog sou u verslag daarop dui dat Charl Kinnear Facebook-foto’s gestuur het en ’n vergadering in 2021 (16 September) bygewoon het. Hoe is dit moontlik? As u verslag so ’n eenvoudige fout kan bevat, hoe kan u bo redelike twyfel seker wees dat die Kinnear-familie wel veilig is en nie die beskerming benodig nie?” lui ’n gedeelte Bernard Pieters, bestuurder van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, se brief aan Beaton.

Kaapse Forum is in besit van die vertroulike dokument waarin dié skreiende foutiewe intelligensie uiteengesit is.

Die organisasie hou vol dat die Kinnear-gesin se beskerming prioriteit moet geniet sodat Nicolette Kinnear, sonder vrees vir haar of haar gesin se veiligheid, in die hof kan getuig.

“Die aard van lt.kol. Kinnear se moord is so dat sy gesin se beskerming van kritieke belang is. Dit is die verantwoordelikheid van die SAPD om hul menseregte in hierdie opsig te handhaaf. Hulle moet eenvoudig die versekering bied dat die veiligheid van individue wat by regsaksie betrokke is, verseker kan word en toesien dat geregtigheid sonder enige intimidasie sal kan geskied,” benadruk Pieters.