kaapse forum skenk Sewentig skooltassies vol drome, hoop en skryfbehoeftes vir Skurweberg se graad 1’s

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het verlede week die toenemende stryd teen armoede in die Wes-Kaap saam met ’n nuwe generasie skoolleerders aangepak. In dié projek word behoeftige graad 1’s toegerus met ’n skooltas vol drome, hoop én al die nodige skryfbehoeftes om hul skoolloopbane op die regte voet te kan begin. ’n Totaal van 170 tassies, gevul met skryfbehoeftes ter waarde van nagenoeg R600 elk, is by ses skole en gemeenskapsorgsentrums in die Wes-Kaap uitgedeel. As deel van dié projek is 70 tassies by die Skurweberg Sekondêre Skool in Die Dorp Op Die Berg buite Citrusdal uitgedeel.

Volgens Bernard Pieters, bestuurder van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, het navorsing al telkens getoon dat hoër opleidingsvlakke lei tot laer werkloosheidsvlakke. Daarom meen Kaapse Forum sal die skenkings wat by skole en sorgsentrums in die Wes-Kaap gemaak is, ’n belangrike bydrae maak tot die toekoms van elkeen van die betrokke leerders wat by die projek baat.

Die heel basiese items in ’n graad een-leerder se skryfbehoeftepakket kan ’n ouer minstens R540 uit die sak jaag. Indien daar boonop berekening gehou word met die feit dat meer as 18% van huishoudings in die Wes-Kaap, volgens die jongste data van Statistiek SA, ontoereikende toegang tot voedsel het (waarvan 7,4% ernstige ontoereikende toegang tot voedsel het), is dit te verstane dat duisende ouers van skoolleerders net eenvoudig nie die nodige hulpmiddele het om skryfbehoeftes aan te koop nie.

Volgens Pieters het die Wes-Kaapse regering in ’n oorsigdokument oor ekonomiese aangeleenthede in September verlede jaar benadruk dat armoede en die onderwyser-leerder-verhouding van die belangrikste elemente is wat ’n invloed op leerder se akademiese prestasie het. Daar is onlangs aangekondig dat die onderwyser-leerder-verhouding tans op ’n gemiddeld van 1:35 staan en in sekere gebiede soos Bellville, Kuilsrivier en Mitchells Plain is oorvol klaskamers ’n ernstige probleem. 

Kaapse Forum sal derhalwe vanjaar as deel van ’n deurlopende onderwysstrategie ook druk op die Wes-Kaapse Onderwysdepartement plaas om die beloftes van die oprigting van nuwe skole in dié provinsie na te kom of in vennootskap met burgerregteorganisasies te werk aan volhoubare oplossings. Dit is veral noodsaaklik aangesien skole in die Wes-Kaap in die afgelope vyf jaar ’n totale toename van nagenoeg 19 000 leerders per jaar ervaar het.

“Ons glo dat die skenking van skryfbehoeftes aan leerders in die Wes-Kaap ’n verskil sal maak in hierdie leerders se lewens – veral waar hulle nou formeel hul skoolopleiding afskop. Elke pen, potlood, toegewyde onderwyser en hardwerkende leerder bring dié provinsie nader aan die dag waarop die juk van armoede vir nog ’n gesin afgeskud kan word. Ons sien saam met dié leerders en hul skoolgemeenskappe uit na die sukses wat voorlê,” sluit Pieters af.

Hierdie projek is finansieel moontlik gemaak met die hulp van die Virseker Trust.